fbpx
Almero – ‘n Brein met ‘n bloukol

Almero – ‘n Brein met ‘n bloukol

Die jong musikant, skrywer en kunstenaar Almero Welgemoed se splinternuwe vollengte album met die treffende titel, ‘N BREIN MET ‘N BLOUKOL, is pas uitgereik.

Die alternatiewe pop-rock album ‘N BREIN MET ‘N BLOUKOL bevat 12 snitte met swaargewig temas, maar met toeganklike melodieë, ritmes en lirieke.

Almero beskryf die genre van die album as “hartseer met ʼn lekker beat”. Die album is geskryf saam met sy broer, Nico Welgemoed. Austin Hulme het saam met Almero en Nico die vervaardiging behartig.

ʼn Brein met ʼn bloukol bevat temas wat deurlopend redelik duidelik en konstant is, hoewel ʼn goue draad elke liedjie verbind en elke snit voortbou op ʼn verhaal wat vertel word van die begin tot die einde van die album.

Die temas sluit in geestesgesondheid en onderwerpe soos depressie en angs, asook die menslike kondisie.

Die titel van die album verwys effe tong in die kies na die skrywer se ervaring van onder andere angs en emosies wat soms moeilik is om te verwoord.

“ʼn Mens is geneig om te voel asof daar dalk iets fout is met ʼn mens in tye van groot hartseer, asof jou brein ʼn onsigbare bloukol het. Ek is van kleins af vreeslik opgevang in my emosies en as gevolg daarvan kan ek baie angstig en moedeloos raak,” verduidelik Almero.

“Die album is deels ʼn vertelling van my ervaring hiervan, maar ook ʼn vertelling van die dinge wat daardie ‘bloukol’ veroorsaak het en ook genees het.”

Die album bevat liedjies oor die waarde van vriendskap in tye van donkerte (“Pietie Beyers”), my verlange na die verlede en meer eenvoudige tye (“Teletubbies”), die ingewikkelde nuanse van verhoudings, en hoe geestesgesondheid ʼn verhouding kan beïnvloed (‘N BREIN MET ‘N BLOUKOL, DINSDAG, GOEDKOOP TERAPIE).

ONVEILIG is aanvanklik geskryf as temalied vir die kortfliek, Karen. Die kortfliek het onlangs op die kykNET Silwerskermfees gedebuteer.

“Al is dit soms moeilik om oor hierdie onderwerpe te gesels, dink ek dit is heelwat meer algemeen as wat ons vermoed. Ons almal het dae vol hartseer en tydperke waar dinge donker lyk. Ek glo as ons die vrymoedigheid het om daaroor te gesels kan ons die ingewikkelde en swaar emosies bietjie meer draaglik maak,” sê Almero.

Hy het die album in 2022 begin skryf net nadat hy en sy vrou Johannesburg toe verhuis het van Potchefstroom af.

“Die trek het ʼn groter effek op ons gehad as wat ek verwag het. Baie van die liedjies op die album raak aan isolasie en alleen-wees, fisiek, maar ook psigies.”

Almero sê dit was vir hom terapeuties om die album te skryf en terug te kyk na tye waar hy moedeloos was en wat in daardie tye gehelp het, soos terapie, gesels, verhoudings en konneksies. Hy skryf ook oor die ervaring van terapie (SIMPTOME, VOORSKRIF).

Die musikant hoop die album gee mense die vrymoedigheid om ook te praat oor hulle emosies en ervarings.

“Ek glo hierdie gesprekke gee ons almal die geleentheid om meer empaties te wees. Ek hoop ook dat mense sal kan vereenselwig met die lirieke en dalk ʼn klein bietjie minder alleen voel daardeur.

“Suid-Afrikaners is nog skaam en huiwerig om oor geestesgesondheid en emosies te gesels. Ek hoop
hierdie album begin gesprekke in gesinne en vriendekringe.”

BABEL en ONVEILIG is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

Die album sal reeds vanaf 13 Oktober 2023 beskikbaar wees om vooraf af te laai (pre-add), en die volledige album sal op 27 Oktober 2023 op alle groot digitale platforms beskikbaar wees. Meer oor die kunstenaar: Almero Welgemoed is ‘n sanger, liedjieskrywer, draaiboekskrywer, digter en visuele kunstenaar, gebore en getoë in die hartjie van die Vrystaat, Bloemfontein.

Hy woon tans in Johannesburg as ‘n voltydse musikant, draaiboekskrywer en illustreerder. Almero het in 2016 sy debuut as liedjieskrywer en musikant gemaak met ʼn kortalbum (EP) in samewerking met Bouwer Bosch, met die hoogaangeskrewe enkelsnit VUURVAS.

Sedertdien werk Almero voltyds as liedjieskrywer vir sy eie werk sowel as ander kunstenaars (Bouwer Bosch, Straatligkinders, All New We). In 2018 stel Almero sy debuutalbum vry, Maandag, wat sy veelsydigheid as kunstenaar ten toon stel.

Die album het wydverspreide lof gekry, die top van die Afrikaanse trefferlyste bereik en Almero gevestig as ʼn kunstenaar om mee rekening te hou in die musiekbedryf. Sy musiek is sedertdien op gewilde radiostasies te sien, en hulle het by bekende lokale en feeste regoor die land opgetree, soos Alternatief Is Groot, Rocking Stilbaai, Rocking Stellies en Oppikoppi.

Maandag is benoem vir onder meer ʼn Ghoema-, Aitsa-toekenning en SAMA-toekenning. In 2021 het Almero sy tweede vollengte album, Junie, uitgereik. Kort daarna sien nog ʼn kortalbum (EP) getiteld selfhelp, die lig. Die albums ontvang albei lof vir die steeds ontwikkelende styl, wat bewys dat Almero gereed is vir ʼn bestendige loopbaan in die Afrikaanse musiekbedryf.

In 2017 is sy debuutpublikasie Donderweer Gedagtes (ʼn bloemlesing van geskrifte en gedigte) deur NALEDI uitgegee. Almero het in dieselfde jaar ook die eerste Liefde Wen-bloemlesing gepubliseer waaraan hy as samesteller werk – ’n amateurpoësiekompetisie wat deur die liefdadigheidsorganisasie liefde Wen van stapel gestuur is.

Almero is sedertdien ook opgeneem in ʼn kortverhaalbundel saamgestel deur Fanie Viljoen (Iemand Wat Verdrink – LAPA) en van sy skryfwerk is verwerk tot ʼn teaterproduksie wat in 2020 by Die Tuin Van Digters debuteer.

Hy is tans besig om musiekvideos te vervaardig vir heelwat van die liedjies op sy jongste album, ‘N BREIN MET ‘N BLOUKOL, en werk ook saam met Pietie Beyers aan ʼn teaterstuk getiteld “Die spreekkamer / The speaking room” wat binnekort op die planke sal wees.

SOSIALE MEDIA:
Facebook, Instagram