fbpx
Renaldo – SOMETHING IN THE ORANGE

Renaldo – SOMETHING IN THE ORANGE

Die jong, opkomende sanger Renaldo, is so geïnspireer deur die Amerikaanse country-snit SOMETHING IN THE ORANGE dat hy besluit het om ook die liedjie op te neem en as ‘n enkelsnit uit te reik.

SOMETHING IN THE ORANGE is deur Zach Bryan geskryf en oorspronklik deur dié country-ster uitgevoer.’

Die country-treffer gaan oor ‘n persoon wat nog hoop het op die liefde, maar die ander persoon het eintlik al lankal uit die prentjie verdwyn.

Renaldo sê hy vind aanklank by die manier waarop die storie in die liedjie vertel word.

“Die manier hoe die instrumente en die woorde so mooi pas bymekaar en ‘n storie vertel is wat ‘n mens laat klou aan hierdie liedjie,” sê die sanger wat onlangs in die toptien van die gewilde sangkompetisie Die Kontrak geëindig het.

Die musiekvideo vir Renaldo se sielvolle weergawe van SOMETHING IN THE ORANGE is geskep om te pas by die storie agter die liedjie.

Die vervaardigers, Brits Films, het gespeel met oranje lig en die tema is spesifiek gekies omdat die lirieke gaan oor verlore liefde.

“Die persoon voel so bietjie in die donker, maar die persoon het nog bietjie hoop,” verduidelik Renaldo.

Renaldo is vroeër vanjaar vir ‘n Aitsa-toekenning asook ‘n Afri Indie-musiektoekenning benoem vir beste nuweling.

Hy was ook die wenner van die Afrikaans Oppi Platteland-sangkompetisie.

Meer oor die kunstenaar:

Renaldo is oorspronklik van Secunda afkomstig maar woon tans in Centurion.

Hy sing al van kleins af en het in 2019 sy debuutenkelsnit uitgereik. Hy het egter reeds op die ouderdom van 7 die musiekbedryf betree en het by al wat ‘n klein markie en plaaslike geleentheid was, opgetree.

Renaldo se grootste inspirasie is die Britse sanger en liedjieskrywer Ed Sheeran, aangesien hy mal is oor die manier waarop Ed sy liedjies skryf maar ook oor die manier hoe hy vertonings lewer.

Volgens Renaldo kan hy enige plek geïnspireerd raak om ‘n liedjie te skryf, en geniet dit om na video’s van kunstenaars op die verhoog te kyk om die kreatiewe idees te laat vloei.

Renaldo vertel sy storie deur die emosie wat in sy stem gehoor kan word asook die passievolle optrede wat hy lewer. 

Hy is tans ‘n derdejaar student in musiekingenieurswese en lewer vertonings wanneer hy kans kry. Hy is ook tans besig om te werk aan ‘n nuwe enkelsnit, wat volgende jaar uitgereik sal word.

Hy het ook vroëer die jaar ingeskryf vir ‘n ander kompetisie met die naam van Afrikaans Oppi Platteland. “Ek het gewen, en kon die groot verhoog deel met groot kunstenaars” het die jong sanger nederig genoem.  

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram