fbpx
Márica Barnard – STOFPAAIE

Márica Barnard – STOFPAAIE

Die krulkopsangeres van Pretoria Márica Barnard het pas haar jongste enkelsnit, STOFPAAIE, vrygestel en dit spreek universele temas soos lewens- en sielsgeluk aan.

Dié enkelsnit kom vanaf haar debuutalbum, Louter, wat sy in 2019 by onderskeidelik Wouter van der Venter van Weskus Studios en Douw Steyn van Son Studios opgeneem het.

Márica het sowat agt jaar gelede die Asbos-huisteater in die ooste van Pretoria begin en het sedertdien ’n groot ondersteuningsbasis opgebou. Sy het een van dáárdie donkersjokoladestemme waarvan haar ondersteuners net nie genoeg kan kry nie.

Haar ondersteuners sê dat haar musiek vir vele “volstruisvleisoomblikke” sorg.  Die woord hoendervleis, skryf haar Facebook-ondersteuners, is te gewoon om haar musiek te beskryf.  

STOFPAAIE is nie ’n tradisionele liefdeslied nie, eerder ’n ballade wat ons op donker sielspaaie neem.  Haar musiek delf diep in die siel en torring op ’n subjektiewe vlak aan die luisteraar se bewussyn.

Sy beskryf STOFPAAIE so: “Die snit gaan oor die pad wat ’n mens deur die lewe loop, die verbygaande jare en die letsels wat dit los. Ons is ook die heeltyd op soek na iemand met wie ons ons lewe kan deel. Ons beplan en beplot, maar is geneig om nie die makliker uitweg raak te sien nie.”

STOFPAAIE, wat haar eie pennevrug is, is ’n goeie voorbeeld van haar eiesoortige tipe sielsmusiek. Sy is ook ’n digter en sy verklap dat baie van haar gedigte die basis sou vorm van haar komposisies.

Márica is deel van die nuwe generasie musiek-en-liriekbeweging. Dit is vir haar belangrik dat mense regtig na haar musiek moet luister. “Dit is belangrik dat mense na die lirieke moet luister. Sodoende respekteer hulle die kunstenaar en sy emosies.”

Márica het geen formele musiekopleiding gehad nie, maar is al van jongsaf besig met musiekdinge. Sy was op skool lid van die koor en het aan alles deelgeneem; van operettes tot by kampvuurkonserte. Sy het ’n sterk onafhanklike streep en daarom het sy ook kitaarlesse geneem sodat sy haarself kan begelei.  

Sy is baie lief vir Afrikaanse musiek en vind inspirasies by kunstenaars soos Anneli van Rooyen, Coenie de Villiers, Koos du Plessis en Amanda Strydom.

Die deurslaggewend faktor van STOFPAAIE se geslaagheidis die egtheid waarmee sy sing. “Die paaie wat jy loop bring jou tog uit by die plekkie waar jou hart moet wees. Dit is waar die rusplek vir die dromer is,” sê sy.

STOFPAAIE is die eindproduk van die smeltkoers waardeur sy moes gaan om haar eie stem te vind. Sy glo dat lirieke en musiek haar gesuiwer het.

Márica se musiekliggie gaan nie gou gedoof word nie en sy glo dat die tyd nou ryp is om haar woorde en musiek aan gehore landswyd bekend te stel.

SOSIALE MEDIA

Instagram