fbpx
Dagbreek – DIE LEWE IS TE KORT

Dagbreek – DIE LEWE IS TE KORT

In hul debuutsnit, DIE LEWE IS TE KORT, herinner die broer-en-suter-duo, Dagbreek, luisteraars daaraan om in die oomblik te leef en nie toe te laat dat die verlede die toekoms bepaal nie. “Al wat ons het is vandag so ons moet die lewe aangryp en voluit leef,” het Tammy van der Merwe gesê.

“Ons almal gaan deur moeilike tye en val soms terug in die lewe. Ons het in die kerk begin musiek maak en later uitgebrei om in kroeë te speel. Ons het gesien en ervaar hoe maklik dit vir die wêreld is om jou in te sluk. Ons het hard probeer om in te pas in die internasionale “pop” mark, maar daar was altyd iets kort. Toe ons onlangs in ons moedertaal begin skryf het ons werklik ons stem gevind en dit het ons ook terug gebring na ons Christelike fondasie,” het Wade Bezuidenhout vertel.

Hulle hoop hul musiek skep ’n gevoel van ‘jy is nie alleen nie’ en dat hulle deur hul musiek mense sal aanmoedig om altyd terug te keer na hul beginsels toe. Hulle wil beklemtoon dat niemand die dag van môre belowe word nie. In die musiekvideo van DIE LEWE IS TE KORT word dié broer en suster aan die kyker bekendgestel met ’n toneel van die sonsopkoms as verwysing na hul naam.

“Ek glo dat baie mense aanklank sal vind met die lirieke en boodskap – veral in die huidige omstandighede. Daar is baie onsekerheid en mense twyfel baie, maar ons moet nie vergeet om op te hou lewe nie,” het Tammy gesê. Hulle is reeds die afgelope vyf jaar besig om planne te maak en aktief in die musiekbedryf betrokke. Hulle put inspirasie vanuit kunstenaars soos Lady Antebellum, Civil Wars, Rascal Flats en Blake Shelton. Op die plaaslike front sou hul graag saam met kunstenaars soos Appel, Riaan Benade en Demi Lee Moore wou werk.

“Ons hou van musiek wat ’n dieper betekenis het, interessante konsepte en metafore bevat asook kreatiewe ‘catch-phrases’ en verwante boodskappe insluit,” het Wade verduidelik. Albei is dit eens dat die voorreg om saam met Murray Lubbe te kon werk, ’n hoogtepunt was. Lubbe is ’n bekende musiekvervaardiger wat ook al verantwoordelik was vir treffers deur Steve Hofmeyr, Bok van Blerk, Jo Black, Ruhan du Toit, Gerhard Steyn en Appel. “Ons volgende twee enkelsnitte is ook reeds opgeneem om sommer binnekort vry te stel,” het Tammy opgewonde vertel.

Dagbreek het ook onlangs in die top 7 van die onlangse Die GROOT Ontbyt en Innibos Liedjie inni laai-kompetisie met hul lied Onbreekbaar geëindig. Wade was in die Top 48 van The Voice Seisoen 3 en vertel dit was ‘n ongelooflike belewenis.

DIE LEWE IS TE KORT is reeds op alle digitale stromingsdienste beskikbaar.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram