Pedri – DEEL VAN DIE LEWE

Pedri – DEEL VAN DIE LEWE

‘n Teologiestudent van Centurion, Pedri, het pas sy eerste enkelsnit,   DEEL VAN DIE LEWE,  vrygestel.  Met dié snit maak hy ook amptelik sy toetrede tot die Afrikaanse musiekbedryf en die jong sanger daag genres uit en neem waaghalsige musikale risiko’s wat opkomende sangers nie sommer sal neem nie…

Want DEEL VAN DIE LEWE dans op die rand van gospel, maar die rock-pop gedrewendheid daarvan en die sterk lirieke, wat ’n positiewe gevoel by die luisteraar laat, sal selfs die gehardste ateïs se voete laat dam-ti-dam.

Tradisionele gospelliedjies, met die uitsondering van onder andere Joe Niemand, het gewoonlik ’n meer gewyde gevoel, en sal nie maklik op radiostasies gespeel word nie, maar DEEL VAN DIE LEWE is baie radiovriendelik. Die wysie gaan in jou kop bly dans en die lirieke gaan onbewustelik oor jou lippe spoel…

Pedri vertel graag dat hy ’n millennium-baba is; ’n kind wat met tegnologie groot geword het, en nie bang is om kanse te waag nie.  In baie opsigte is hy ook ’n wandelende paradoks wat oor naweke sy sekulêre musiek in restaurante aan mense bekendstel, en op Sondae die lof- en aanbidding by die die House of my glory-gemeente in Centurion lei.  “Ek is baie lief vir die Here en ek het die liedjie gekryf met die hoop dat mense sal besef dat gister verby is en dat vandag saak maak. Ons moet ook mekaar vergewe, om te vergewe bring in soveel opsigte nuwe lewe.”

Sy positiewe geaardheid word ook in die koorgedeelte ge-eggo: ..“Dit is deel van die lewe, dit is deel van die lewe. Om te vergewe bring nuwe lewe…”

Pedri is in Pretoria gebore en het ook in die Jakarandastad grootgeword. “Ek is baie lief vir die buitelewe en vlug dikwels na ons plasie, net buite die stad, as die liggies, geraas en verkeer té veel raak.”

 Hy het nadat hy, aan die Hoërskool Montana in die noorde van Pretoria, gematrikuleer het (nogal matriek met drie onderskeidings), sy musiekstudies aan onderskeidelik Unisa, Rock school en  SAMRI (South African Music Industry) voltooi.  Hy is veral ’n meester van die elektriese kitaar.

Pedri het verlede jaar vir ’n BA-graad in teologie ingeskryf en sy studies is ook die inspirasie vir baie van sy lirieke.  Pedri skop die nuwe jaar op ’n hoogtepunt af en DEEL VAN DIE LEWE is een van dáárdie liedjies wat ons bitter nodig het – vergeet van die afgelope twee jaar se Covid-19-pyn en fokus op vandag.

SOSIALEMEDIA

Instagram