fbpx
Marisa sing van haar KETTIEKIND

Marisa sing van haar KETTIEKIND

Haar eie seuntjie se opregte liefde vir die platteland het die sangeres en liedjieskrywer Marisa Odendaal geïnspireer om haar splinternuwe enkelsnit, KETTIEKIND, neer te pen.

KETTIEKIND vang Marisa se seuntjie, Janco, se liefde vir die Namakwaland vas. Haar eerste kortalbum is vir haar man en dogtertjie geskryf, en dié keer was dit haar seuntjies se beurt.

“Min dinge kan hom onderkry. Hy leef voluit sonder twyfel, en is opreg, eerlik en vasberade om die beste te wees wat hy vandag kan wees.  Ek dink dit is presies hoe Abba Vader wil hê ek en jy moet leef, maar dan word ons groot en alles verander,” sê Marisa oor die boodskap van die liedjie.

Klein Janco is gedurig besig om visvalle te bou en het sy eie groentetuin. Hy is ook lief daarvoor om homself buite besig te hou en vat sy kettie oral waar hy gaan.

“Ek is absoluut ‘n geseënde moeder om ‘n seun soos Janco te kan hê, hy bring ‘n vrede en rustigheid oor my wat ek nie kan beskryf nie.  Om te sien hoe Abba deur daardie klein lyfie werk is ongelooflik, ek dink nie eens hy self besef al hoe Abba hom gebruik nie.”

Marisa hoop dat KETTIEKIND inspirasie vir elke jong seun en dogter sal gee, om hulle harte gefokus te hou op dit wat werklik belangrik is en te weet dat hulle saam God nes Dawid al die bere en leeus op hul pad kan oorwin.

Marisa wil met KETTIEKIND luisteraars aanmoedig om die lewe rustiger aan te pak en minder besig te wees met dinge wat nie waarde toevoeg tot hulle lewens nie, en eerder besig te wees met dinge wat ewigheidswaarde toevoeg.

KETTIEKIND is ‘n saamsing-liedjie waarby die hele gesin kan aanklank vind. God praat met my deur musiek, musiek speel so ‘n groot rol in ons lewens.  Dit waarna jy luister, bring vrug op in jou lewe.  Ons sing oor en oor saam die woorde van ‘n lied wat ons van hou.”

Marisa word vanjaar 40 en hoewel sy dink dit vir ander kan klink of dit te laat is om haar droom te verwesenlik, pak sy nou ‘n nuwe loopbaan in die vermaakbedryf met albei hande aan.

“God se plan is altyd anders.  Sara het in haar negentigs vir die eerste keer swanger geword. Sy was stomgeslaan en het eintlik daaroor gelag, maar God se belofte aan Abraham was dat hy hom die Vader van ‘n groot nasie gaan maak en ouderdom en omstandighede keer nie God se planne.  Sy tyd is nie ons tyd nie, daarom vertrou ek vir Abba Vader vir hierdie nuwe reis.”

Die musiekvideo vir KETTIEKIND is deur Julian de Jager van Fame Production geskiet op ‘n klein dorpie genaamd Kotzesrus in die Namakwaland.

Marisa beskryf dié plek as haar gesin se “stukkie hemel op aarde” wat hulle in 2019 ontdek het. Dit is ook hier waar klein Janco sy hart verloor het.

“Op hierdie klein dorpie maak die mense nog staat op hul gebede vir water en leef hulle naby aan die Here. Water daar is kosbaar, want dit is bitter skaars.

“Lang storie kort, kry hierdie gebied in Februarie 2020 ‘n ongelooflike reënseisoen. Oupa Ann, ons buurman, het vertel dat dit jare laas soveel gereën het. So skryf ek toe hierdie lied oor die opgewondenheid van wanneer gebede verhoor word en hoe my seun se totale menswees daar in volle oorgawe gebore word.”

Meer oor die kunstenaar:

Marisa Odendaal se passie vir musiek is ingebore. Sy het van kleins af in haar kamer konsert gehou met haar poppe en soos sy ouer geword het, wou sy oral sing waar sy kon plek kry.

Haar ouers is lief vir musiek, en Dana Winner, Jim Reevse, Don Williams, Annelie van Rooyen het gereeld in die huis weerklink.

Marisa is sedert 2020 professioneel in die musiekbedryf doenig. Sy tel Riana Nel, Monique Steyn, Riaan Benadé, Elvis Blue, Bernice West, Theuns Jordaan, Nádine, Steve Hofmeyr en Onbeskaamd onder haar plaaslike musiekinspirasies.

Die liedjieskrywer sê dit is absoluut die Here wat ‘n lied in haar hart plaas. Die liedjie word dan verder geïnspireer deur haar omstandighede of boodskappe van bemoediging.

Marisa luister graag na ligte Afrikaanse musiek en is ook baie lief vir gospel en is veral mal oor Riana Nel se liedjies.

Sy beskryf haar stem en styl as ‘n kombinasie van platteland, eenvoud, verlossing, liefde, vollheid met ‘n spatseltjie pienk.

Marisa het geleer die musiekbedryf is nie soos wat sosiale media dit voorgee om te wees nie, maar eerder dat dit harde werk is en dat sy vasgeanker moet wees in haar geloof.

Sy is tans besig om ‘n nuwe liedjie op te neem saam met haar goeie vriend, die musikant Hansie Roodt. Marisa het in 2022 die Melomaan-musiektoekennings vir onafhanklike kunstenaars gewen in die kategorie vir musiekvideo van die jaar vir Plaasmeisiekind en nuweling van die jaar.

Luister na KETTIEKIND deur op die skakel te klik: https://marisa.lnk.to/KettiekindMB

SOSIALE MEDIA

Instagram