fbpx
Matthew John Duncan se musiekvideo ROEP

Matthew John Duncan se musiekvideo ROEP

Die enigste ding wat jou steeds moet verras, is die feit dat daar steeds goed is wat jou kan verras. Vandag wil ek gesels oor die volgende verrassing vir die Suid-Afrikaanse musiekindustrie, Matthew John Duncan.

Matthew is gebore in Durbanville, woon tans in die Paarl, en sy musiek beloof om die hele land plat te reis. Met sy nuutste enkelsnit begin hy daardie reis en sy naam sal spoedig op almal se lippe wees.

ROEP is ’n lied wat jou op ’n melodieuse reis neem. Dit bring al die kleure en patrone van popmusiek uit – amper asof jy daarna luister deur ’n kaleidoskoop. 

Die musiekvideo word op 29 Mei 2020 digitaal vrygestel op Matthew John Duncan se Facebookblad.

Die lied ROEP se lirieke ondersoek liefdesverhoudings onder die dekmantel van eksistensiële vrae,” verduidelik Matthew.

Die lied is geskryf deur Matthew, in samewerking met Simon en James Kotzé, en is vervaardig deur Jandré Spangenberg by Totius Hill Studios.

Met invloede soos John Mayer, Sam Fender, Kaleo en The 1975 bied hy ’n vars, nuwe klank vir die Afrikaanse mark wat hom as kunstenaar uitsonder.

Met sy diverse skryfstyl wat strek van Folk tot Rock, gaan hy gehore nog lank geïnteresseer kan hou in sy musiek.

Alhoewel hy reeds vir die afgelope sewe jaar lank musiek beoefen, kon dit eers rigting kry in 2018 toe hy as siviele ingenieur uittree. In 2019 begin hy om sy musiekloopbaan voltyds na te jaag. Sedertdien het hy reeds by talle troues, markte an korporatiewe funksies opgetree en ook die geleentheid gehad om vir Roan Ash ’n konsert te open.

Matthew was vir agt jaar lank ’n musiekleier by sy kerk en sê dit is te danke aan die musikante daar wat hom help vorm het om vandag sy passie te kan uitleef.

As hy nie besig is om musiek te maak nie, vul hy sy tyd met boeklees, liggaamsoefeninge en die voltooiing van sy BTech graad.

Sy nederige menswees en ontvanklike persoonlikheid spreek van sy eerlike liefde vir sy kuns.

Ek sien sukses as om ’n lewe daarvan te maak deur my passie uit te leef. Ek hoef nie die ‘grootste’ kunstenaar in SA te wees om gelukkig te wees nie.”

Matthew John Duncan se musiek is tans op digitale platforms beskikbaar. Aanhangers en toekomstige aanhangers kan uitsien na ROEP se musiekvideo.

Wat dink ons?

4.5 out of 5 stars

Matthew John Duncan se musiek is vir seker iets om na uit te sien. Dit is ‘n perfekte balans tussen ernstig en lig. Die verwerking is puik en sy luisterryke stem komplimenteer die styl. Ons hou sy loopbaan met groot belangstelling dop.

Hou Matthew John Duncan se Facebookblad dop op 29 Mei 2020 om die vollengte video eerste te sien.

Volg hom gerus op sosiale media

Facebook, Instagram