fbpx
Shaun Niewoudt – Hartsbegeerte

Shaun Niewoudt – Hartsbegeerte

“Die liedjie is ‘n cliché oor die liefde, tog probeer dit die ware betekenis van opregte liefde definieer. Somtyds is ons smoorverlief op iemand, maar daardie persoon voel nie dieselfde nie. Ware liefde bestaan wel, al dink ons soms nie so nie,” verklap Shaun oor die betekenis agter sy eerste amptelike radio-enkelsnit wat pas uitgereik is. 

Alhoewel dié 23-jarige sanger – met sy baritonstem wat mens nogal herinner aan die gesellige bosveldvuurtjie – al by verskeie kuierplekke in Suid-Afrika en selfs in Amerika opgetree het, is dit sy heel eerste enkelsnit wat vrygestel is.  Maar die gewag was beslis die moeite werd.

Hartsbegeerte, wat een van Shaun se eie pennevrugte is, is ‘n betekenisvolle pop-country ballade wat sal byval vind by almal wat al ooit verlief was. Volgens Shaun, gaan luisteraars daarvan hou omdat dit ook ‘n lekker romantiese vasdansliedjie is, en ook hoop bring aan die wat glo dat die ware liefde nie meer bestaan nie. 

“My gewese meisie het as inspirasie vir die liedjie gedien. Dinge het nie uitgewerk soos ek gehoop het nie, maar die liedjie het my herinner dat ware liefde tog bestaan.”

Shaun vertel hy het begin sing voordat hy gepraat het. “My ouers het my na ‘n spraakterapeut geneem omdat hulle geglo het dat ek ‘n spraakgebrek het. Ek was eintlik net te skaam om te praat, maar nie om te sing nie.”  

Hy het op agtjarige ouderdom ‘n kitaar gekry en het blitsvinnig die instrument bemeester.

Shaun is ‘n regte stralejakker. Hy is in Bethlehem in die Vrystaat gebore, maar sy paaie het hom na Hongkong, Zambië en Amerika geneem voordat hy besluit het om in Pretoria nes te skop.  “Ek het verlede jaar in Amerika gaan boer en ook geleer hoe om ‘n vragmotor te bestuur. Op Saterdagaande het ek gewoonlik optredes in verskeie Amerikaanse stede en dorpe gedoen.”

“Ek het baie ondervinding opgedoen terwyl ek in Amerika was, maar Suid-Afrika is my huis en musiek neem ook nou  die eerste plek in my lewe in. Ek is in die stadium besig om liedjies vir my debuutalbum te skryf. Ek wil liedjies skryf wat betekenisvol is, wat iets vir mense beteken. My liedjies is almal hartsliedjies.”

Shaun beskryf homself as ‘n liefdevolle, opregte, omgeemens wat altyd die positiewe kant in die lewe probeer raaksien.  Ervaring het hom ook geleer dat sukses nie maklik is nie en dat hy hard daarvoor moet werk.

Hy wil baie graag die verhoog met sangers soos Steve Hofmeyr, Ray Dylan en Jan Blohm deel en hy hoop om eendag op al die groot feesverhoë in die land te kan optree.

Wanneer hy nie op die verhoog is nie, is hy besig met ‘n aanlynkursus in digitale bemarking. Hy is ook kliphard besig om liedjies vir sy debuutalbum te skryf.  

Die sanger glo dat  musiek emosies kan wek wat woorde soms nie kan doen nie. En dit is presies wat hy ook met sy eie musiek probeer bereik. Met die vrystelling van Hartsbegeerte behaal hy daardie doelwit en hopenlik gaan hy ook met die liedjie ‘n paar nuwe aanhangers werf.

SOSIALE MEDIA

Facebook