fbpx
Lillia Lessev – die meisie kan sing en skryf.

Lillia Lessev – die meisie kan sing en skryf.

Die talentvolle nuwe tienerster, Lillia Lessev, wat in 2018 die gehoor gaande gehad het by Jacaranda Day, se splinternuwe enkelsnit is nou beskikbaar! 

HEARTLESS, wat deur die sestienjarige self geskryf en getoonset is, gaan oor hoe mense geneig is om aannames te maak en te oordeel sonder dat hulle iemand anders se omstandighede ken.

Haar eie ervaring van hoe mense ander soms oordeel en misverstaan, het haar geïnspireer om HEARTLESS te skryf. “Ek was altyd baie bekommerd oor wat ander mense van my dink, totdat ek besef het hoe min hulle regtig van my weet. Ek het ook besef dat iemand se optrede nie noodwendig weerspieël wie hulle regtig is nie. Dit het my geïnspireer om HEARTLESS te skryf, wat daaroor gaan dat mense vinnig is om te oordeel en hulleself oor mense uit te laat en hoe seer dit kan maak. In tyd, sal jy egter besef dat jy jouself nie aan sulke mense moet steur nie. Dan leer jy om diegene wat hulle eie onsekerhede op jou projekteer se leuens te ignoreer.”

Lillia  neem al sanglesse by Jolanda Becker vandat sy twaalf is. Sy het egter gou agtergekom dat sy ’n instrument moet kan speel as sy graag wil liedjies skryf en kitaarlesse was dus die volgende stap in haar reis as musikant. “Ek het al baie gegroei vandat ek begin het en my musiek en stem het ook baie verbeter,” erken sy.

“My musiek en sang het regtig verbeter met tyd!” Om haar vaardigheid as musikant te verbeter, het die kunstenaar onlangs met klavier- en ukulele-lesse begin.

Dié talentvolle ster het haar eerste enkelsnit, Heartbeat, in 2018 vrygestel. Kort daarna, het sy die kans van ’n leeftyd gekry. “’n Familievriend het aanbeveel dat ek my liedjie inskryf vir ’n kompetisie op Jacaranda FM.

Ek het nie gedink dit staan ’n kans nie, maar het in elk geval ingeskryf, en toe gewen! As gevolg hiervan kon ek by Jacaranda Day 2018 optree, wat iets is wat ek nooit sal vergeet nie. Dit het ook gelei tot my eerste radio-onderhoud en optrede op Friday Live.”

Lillia het daarna nog twee enkelsnitte – Losing My Mind en Rusted uitgereik. Laasgenoemde is ingeskryf vir ’n Britse Liedjieskryfkompetisie en het vir haar, in twee kategorieë, ’n plek in die finaal besorg. 

Rusted is ook ingeskryf in die Internasionale Liedjieskryfkompetisie (ISC) en sy het as finalis uit die stryd getree asook ‘n spesiale ere-toekenning sertifikaat.  “Dit is ’n ongelooflike voorreg, aangesien 18 000 mense regoor die wêreld daarvoor inskryf en net 2% van die deelnemers in die finaal eindig,” sê sy.

Volgens Lillia, het elke liedjie ’n spesiale plek in haar hart, maar HEARTLESS bly haar gunsteling. Sy sê: “HEARTLESS gaan oor iets waaraan ek steeds dink en wat ek steeds daagliks ervaar. Ek is seker daar is baie ander mense wat ook daardeur gaan. Ek beskou dit as my ‘vegkreet’ en is baie trots op die eindresultaat.”

Omdat dit ’n kreet is wat jou aanspoor om op te staan en aan te gaan, glo Lillia dat luisteraars nie net dié snit se opgewekte wysie sal geniet nie, maar ook sal aanklank vind by die boodskap.

“Ek wil hê dat my musiek mense se harte moet raak en dat hulle regtig moet luister wanneer hulle dit hoor. Daar is liedjies wat ek luister wanneer ek verskillende emosies ervaar, omdat ek daarby aanklank vind. Die hoop is dat my musiek dieselfde sal doen vir ander mense,” deel sy.

Aangesien beide haar ouers musikante is, het sy en haar sussie in ’n huis vol musiek en instrumente groot geword.

Volgens die kunstenaar, is baie van haar sukses te danke aan haar ouers se ondersteuning. “Hulle het my nog altyd die geleentheid gegee om my drome te volg en my geleer om my hart te volg, ongeaf van wat ander mense dink of sê.”

Daar is baie kunstenaars wat haar eie styl beïnvloed. “Ek luister na ’n wye verskeidenheid musiek, maar ek het my gunstelinge soos Taylor Swift, Grace VanderWaal, Troye Sivan en Birdy. Tans is Taylor Swift ongetwyfeld my grootste inspirasie.” Plaaslik, sal sy nog eendag baie graag saam met Jeremy Loops wil werk.

https://open.spotify.com/track/6AwUD7rrFflOZQ0JntacsJ

Sy erken dat haar grootste uitdaging tydsbestuur is. “Ek is nog besig om te probeer om my tyd effektief te bestuur en ’n balans te vind tussen my musiek en skool. Daar is egter altyd tyd om te doen waarvoor ek lief is!” 

Lillia het hope talent, passie en deursettingsvermoë en daarom is haar gunsteling-aanhaling deur Walt Disney so gepas: “Enige droom kan waar word as jy die moed het om dit ’n kans te gee.”

Wat dink ons?

4 out of 5 stars

“Hou haar dop”, dis al wat ons kan sê. Met haar arsenaal lirieke en ’n stem van hierdie kaliber kan ons nie anders as om te dink dat haar talent nog meer gaan bied in die jare wat kom nie.

As jy van Grace VanderWaal se musiek hou gaan jy groot genot put uit Lillia se klank.

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook, Instagram, Twitter, Webblad, YouTube