Melissa Massyn se toneelstuk open in die Kaap!

Melissa Massyn se toneelstuk open in die Kaap!

Die draaiboek is geskryf, oudisies is gedoen, repetisies het begin en kostuums word gemaak … Die bekende vermaaklikheidster, Melissa Massyn, se groot droom om haar eie toneelstuk na die verhoog te bring, word eersdaags ’n realiteit.

UNWRITE ME, geskryf saam met Eunice Stoltz, is geskep om ’n platform vir jong talent te gee waar hulle meer oor die toneelbedryf kan leer en ook die kans sal kry om voor groot gehore op te tree.

Melissa Massyn

Dié konsert, wat toneelspel, sang en dans kombineer, vertel die verhaal van Abi (Annette Havenga) wat ’n stryd voer met die stemme in haar kop.

Sy is ’n veertigjarige skrywer wat probeer om haarself, deur middel van haar stories, te vind. Dit help haar om tot die slotsom te kom dat sy nooit regtig vrede gaan vind as sy nie ophou om vyande van haar vriende, familie, loopbaan en die stemme in haar kop te maak nie.

“Gehore kan uitsien daarna om lekker te lag en sal beslis aanklank vind by die hoofkarakter en baie by haar leer,” verklap die aktrise. “Elkeen van die akteurs is werklik talentvol en ek is baie dankbaar vir elkeen van hulle.”

Melissa meen dat dit vir haar ’n lekker uitdaging is om agter-die-skerms betrokke te wees as regisseur en skrywer. Die geleentheid gee vir haar blootstelling aan nuwe aspekte van die vermaaklikheidsbedryf.

Dit is ook die eerste keer dat sy deel is van ’n produksie waarin sy nie self speel nie. Sy sien uit daarna om haar hele span (Annette Havenga, Eunice Stoltz, Almarie Coetzee, Rynhardt Strydom, Havard Koegelenberg, Ree Brink, Chanelle Matthee, Suné Brink en André Myburgh) se vernuf met die land te deel.

“Dit is vir my baie belangrik om, as ’n kunstenaar, altyd besig te bly en te skep, wat die hoofrede is hoekom ek hierdie produksie begin het. Ek sien baie uit daarna om deel te wees van ’n span mense wat glo in toneelspel en om jong akteurs en draaiboekskrywers touwys te maak oor wat dit vat om so ’n toneelstuk – van begin tot einde – op die planke te bring,” verduidelik sy.

Die openingskonsert vind plaas op Saterdag, 30 November 2019, by die Corpus Christi Gemeente in die Kaap. Deure sal om 18:00 open, waarna die vertoning stiptelik om 19:00 sal begin.

Daar is ’n beperkte aantal sitplekke beskikbaar, wat vooraf bespreek kan word (tot 28 November) teen R85 per persoon. Kaartjies kan ook op die aand by die deur gekoop word teen R100 per persoon. Talle bekendes en lede van die media gaan hierdie spoggeleentheid bywoon.

Alhoewel daar vanjaar net een optrede sal wees, beplan die toneelgeselskap om in 2020 die produksie met feesgehore te deel. Volgens Massyn gaan ’n videograaf die proses op kamera vasvang en beplan sy om dit as ’n webreeks uit te saai op haar eie YouTube-kanaal.

Melissa Massyn is ’n bekende plaaslike aktrise, televisiepersoonlikheid, videograaf, sosialemediaspesialis, grafiese ontwerper, skrywer, seremoniemeester en motiveringspreker. Sy werk al sedert 2011 in die vermaaklikheidsbedryf en het bekendheid verwerf vir haar rol as Susan in The Film Factory se fliek, Hoofmeisie.

Sedertdien was sy ook te sien in verskeie ander rolprente, televisiereekse, kortfilms, verhoogproduksies en advertensies. Dié veelsydige ster doen ook gereeld stemwerk vir radio-advertensies, skep video-inhoud vir besighede, bied elke nou en dan drama-werkswinkels aan en gee dramaklasse op aanvraag.

Met UNWRITE ME stel sy nie net ’n splinternuwe kant van haarself aan die publiek bekend nie, maar gee sy ook aan ander die geleentheid om raakgesien te word. 

Stuur ’n e-pos na [email protected] om kaartjies vir hierdie besonderse vertoning te bespreek.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram

Leave a Reply