fbpx
Mia se KRIMINEEL kry aangrypende musiekvideo!

Mia se KRIMINEEL kry aangrypende musiekvideo!

Mia, die talenvolle sangeres uit Potchefstroom, het onlangs haar nuwe enkelsnit, KRIMINEEL, uitgereik en nou is sy terug in die kollig met ’n aangrypende musiekvideo wat perfek by hierdie treffer pas.

Die lied is baie goed ontvang en pronk reeds op die treffersparades van verskeie radiostasies regoor die land.

mia krimineel omslag

Die videowys hoe die dinge wat buite ’n verhouding staan soms die liefde tussen twee mense kan laat skipbreuk ly. Dit bestaan uit grepe van die paartjie se lewe saam, skote van sy werk as polisieman, en flitse van die vrou wat vir haar man wag en aan hom dink. Nie net beloof dit om jou hart te raak nie, maar die boodskap agter die video is iets waarby almal sal aanklank vind.

Kenneth van TA Group, wat die produksie van die video behartig het, sê: “Ons het besluit om ’n dieper video te maak as die stereotipiese liefdesverhaal, deur die man in die storie se werk die ‘krimineel’ te maak. Ons het nie verwag dat die finale produk so pragtig gaan uitkom nie, want alles kom mos eers aan die einde perfek bymekaar. Dit is definitief, volgens ons, een van die beste musiekvideo’s vir 2020.”

Dié sangeres met haar suiwer stem is reeds dertien jaar in die musiekbedryf doenig en het ook al ‘n draai opThe Voice SA gemaak, maar KRIMINEEL, uit die pen van Vaughan Gardiner, is die eerste oorspronklike liedjie wat sy vrygestel het en haar aanhangers is absoluut gaande daaroor!  Luisteraars hou juis daarvan omdat die boodskap dieper is as wat ‘n mens van ‘n gewone popliedjie sou verwag.

Mia (oftewel Mariska Pretorius) wat in Klerksdorp grootgeword het glo dat haar musiek ’n passieprojek is, wat nooit moet ophou nie en sy beskou elke geleentheid wat sy kry om op te tree as ‘n hoogtepunt.  Sy is ‘n spontane persoon met ‘n positiewe uitkyk op die lewe en het uit ervaring geleer dat sukses nie oornag kom nie, maar dat jy moet veg, vasbyt en deurdruk om jou plek in die musiekbedryf te behou.

KRIMINEEL is nou op alle digitale platforms beskikbaar.  Laai die enkelsnit hier af:https://distrokid.com/hyperfollow/mia8/krimineel-mia 

Wat dink ons?

4 out of 5 stars

Die musiekvideo spreek ‘n baie belangrike tema aan en herinner die kyker dat die lewe tydelik is. Die uitbeelding van realiteit is allermins cliché en sal jou aandag hou tot die laaste noot uitdoof. Al wat ons kan sê is: “Knapgedaan!”.

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook

Instagram

Twitter

SoundCloud