fbpx
Bekende radio-omroeper stel nuwe enkelsnit en musiekvideo vry!

Bekende radio-omroeper stel nuwe enkelsnit en musiekvideo vry!

Die bekroonde radio-omroeper en musikant, Francois van Rensburg, se splinternuwe enkelsnit en musiekvideo is pas vandag bekendgestel en is reeds besig om soos ’n veldbrand onder sy aanhangers versprei.

TWEE WÊRELDE gaan oor verandering en dié tema is heel gepas vir die omstandighede waarin Suid-Afrikaners hulleself tans bevind. “Die titel van die liedjie is ironies in die tyd waarin ons leef, want dit is geskryf en opgeneem net voor die staat van inperking aangekondig is,” deel hy. “Daarom is die liedjie juis relevant, veral wanneer jy dink aan die uiteenlopende wêreld waaraan ons gister gewoond was, maar moes verruil vir vandag se realiteit.”

Hierdie treffende snit was ’n gesamentlike poging deur Francois en Joe Foster, wat ook die liedjie vervaardig het. Volgens die kunstenaar, wat nog altyd groot bewondering en respek gehad het vir Joe se talent, het die saamskryfproses lekker gevloei en was dit vir hom ’n groot voorreg om saam met dié ster te werk.

“Wanneer ’n mens as liedjieskrywer saam met iemand werk, is dit belangrik om respek te hê vir die ander persoon. Jy werk met jou waarheid en dit is dus belangrik om mekaar te vertrou. Die proses saam met Joe het natuurlik gebeur en ek dink dit is wat hierdie liedjie so spesiaal maak. Alhoewel hy my die vryheid gegun het om my eie stempel af te druk tydens die skryf- en opnameproses, kan ek duidelik sy invloed in die musiek hoor en ek hoop om gou weer saam met hom te werk.”

Francois verklap dat TWEE WÊRELDE geïnspireer is deur sy pa se dood, maar dat dit meer as een betekenis het en ook van toepassing kan wees op verhoudings wat verander. “Solank die liedjie die luisteraar op reis vat en iets laat voel, is ek tevrede. Die woorde en melodie is daar vir persoonlike interpretasie.”

Die musiekvideo van die snit is ook vandag bekendgestel en is sorgvuldig beplan om die eerlikheid en kwesbaarheid van die liedjie weer te gee. Die video is deur Giant Squid Films (Optog!), by die Pierneefteater in Pretoria, verfilm en wys Francois wat alleen op die verhoog sing sonder ’n gehoor.

“Die skote is intiem en Kyle Wood (die regisseur) het my so natuurlik en eerlik as moontlik probeer lei, sodat die geloofwaardigheid en gevoel van die liedjie se lirieke spontaan kon oorkom. Verder is daar baie rondgespeel met interessante beligting en skaduwees,” verduidelik hy. “Dit is die eerste keer wat ek ’n enkelsnit en video gelyktydig vrystel en ek is kinderlik opgewonde hieroor. Die video dui op die twee wêrelde wat die titel suggereer.”

Kyk die video hier

Francois het in ’n huis grootgeword waar die radio altyd gespeel het en glo dat dit is waar sy groot liefde vir musiek ontstaan het. Toe hy later in sy lewe wou uiting gee aan sy idees en emosies, het hy dit dus in die vorm van wysies en lirieke gedoen.

Alhoewel hy eintlik ’n voltydse radio-omroeper is, het hy in 2010 sy eerste professionele opname deur Wouter Venter laat doen en oor die jare het sy stokperdjie ’n roeping geword. Volgens hom, geniet hy dit die meeste om ballades te sing, omdat hy lief is daarvoor om stories te vertel en oor dieper temas te skryf. Hy vind aanklank by kunstenaars wat hulle eie musiek skryf en meen dat dit vir hom ’n groot hoogtepunt was om teenoor Richard van der Westhuizen in ’n radioverhaal te kon speel.

Francois erken hy dat hy ’n wye musieksmaak het, maar dat Coenie de Villiers se werk nog altyd ’n groot invloed op hom gehad het. Jak de Priester, Laurika Rauch, Johannes Kerkorrel, Elton John en Robbie Williams word ook uitgesonder as van sy grootste inspirasies.

Wanneer hy nie besig is met sy eie musiek nie, gee hy erkenning aan die ander hardwerkende musikante daar buite met sy weeklikse radioprogramme, Lunch Punch (daagliks) en die bekroonde Gister se Grotes (Sondae), en maak hy tyd om oorklankings te doen vir animasierolprente, om oudisies te doen, saam met vriende te kuier, motorfiets te ry en liedjies te skryf.

Gister se Grotes het in 2019 en 2020 Suid-Afrikaanse Radiotoekennings ontvang vir Beste Naweekprogram én Beste Musiekprogram op ’n Gemeenskapradiostasie.Francois van Rensburg het voorwaar baie ysters in die vuur, maar dit is juis sy passie vir musiek en harde werk wat hom gebring het tot waar hy nou is.

Die sanger glo dat musiek grense kan oorskry en hy wil graag eerlike musiek maak wat hy uit sy hart uit bedoel. TWEE WÊRELDE voldoen aan beide hierdie vereistes en besit al die eienskappe van ’n lekkerluister-treffer, wat nog vir jare oor die radio gehoor gaan word. 

Die liedjie is ook nou hier op alle digitale platforms beskikbaar:
Spotify
Deezer
Apple Music

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook
Instagram
Twitter
YouTube