fbpx
Emil Paul terug met sy eerste Engelse enkelsnit

Emil Paul terug met sy eerste Engelse enkelsnit

Emil Paul het vroeg in Junie sy eerste Engelse enkelsnit vrygestel, BARELY OKAY. Die enkelsnit volg na die vrystelling van verskeie snitte vanuit sy Afrikaanse debuutalbum, Begin Net Oor, wat in Oktober 2019 vrygestel is. Met BARELY OKAY, vertel Emil die storie van verbode liefde wat teen die opinies van almal wat die liefde afkeur, moet veg.

BARELY OKAY is ’n liedjie uit Emil se eie pen en gebaseer is op persoonlike ervarings uit vorige verhoudings. Die enkelsnit gaan oor die liefde wat sterker is as enigiets wat moontlik kan probeer om dit te breek. “You and I, we will survive, when we’re barely okay”.

“Dit maak nie saak wat die lewe oor ons liefdespad bring nie, ons sal okay wees, selfs al is alles en almal teen ons,” verduidelik Emil.

Nie eers die nasionale inperking het Emil gekeer om nuwe musiek vry te stel nie. “Ek voel dat nou, meer as ooit tevore, die perfekte tyd is om nuwe musiek vry te stel. Ons bevind ons tans in baie negatiewe omstandighede, so ek hoop dat ek met my musiek iemand weer kan laat glimlag en dans.”

Emil studeer klankingenieurswese wat hom in staat stel om met die kennis sy eie musiek te skryf, self op te neem en te vervaardig. BARELY OKAY is ’n goeie voorbeeld hiervan. Vir een van sy take moes Emil self ’n liedjie skryf en vervaardig. BARELY OKAY was die resultaat daarvan en die snit het so diep in sy hart ingekruip, dat hy besluit het om dit ook as ’n enkelsnit vry te stel.

Die jong man is tans besig om aan nuwe musiek te werk vir 2020. Hy beskryf dié jaar as sy eksperimentele jaar vir sy musiek. “Daar is so baie verskillende genre’s van musiek. Ek glo nie aan die idee dat ek net by een spesifieke genre moet hou nie. Ek wil ALMAL uittoets!” En vir daardie rede, is dit ook vir Emil belangrik om so onafhanklik as moontlik as kunstenaar te bly.

Emil het vir homself ’n naam gemaak as sanger toe sy stem die 2019 seisoen van The Voice SA getref, en die stoel van Francois van Coke laat draai het. Dit het Emil besonder baie as sanger en musikant gemotiveer. Emil word wel nie beperk net as sanger nie. Hy woeker ook as liedjieskrywer en vervaardiger vir ander kunstenaars. Onder leiding van Hugo Ludik, ou-lid van die groep ADAM, is Emil ook besig om ’n internskap by Muse Studios te voltooi.

Volgens Emil het hy ’n baie belangrike les geleer vandat hy doenig is in die musiekbedryf. “Wees jouself. Daar is konstante druk om ‘n sekere manier te lyk en klink wat kan veroorsaak dat jy jou passie vir musiek verloor. Weet wie jy is en bly wie jy is, en jou passie sal jou met elke tree verder begelei.”

BARELY OKAY is reeds vanaf 5 Junie 2020 beskikbaar op alle digitale platforms.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook
Instagram
Twitter
YouTube

Webblad: www.emilpaulsa.com

Lees meer:
Emil Paul en Samantha Leonard span kragte saam
Emil Paul BEGIN OOR met sy debuutalbum