fbpx
Pieter Marcato sing oor LEKKER TYE met nuwe enkelsnit

Pieter Marcato sing oor LEKKER TYE met nuwe enkelsnit

LEKKER TYE, die derde enkelsnit uit die pen van die talentvolle Pieter Marcato, is pas vrygestel.

Die liedjie volg kort op die hakke van sy vorige enkelsnit, SWIPE REGS, wat vroeër in 2020 uitgereik is. SWIPE REGS is uitstekend deur die media ontvang en kan steeds op radiostasies landswyd gehoor word.

piete marcato lekker tye album art

“Dit is so lekker om saam met vriende en familie te kuier. Jy vergeet vir ’n oomblik van jou probleme en van alles negatief in jou lewe. Veral in ’n tyd soos nou, voel ek dit is iets waarna almal smag, lekker tye! Als sal oukei wees en weer een of ander tyd normaal wees,” sê Pieter oor sy nuwe enkelsnit.

Pieter het in Pretoria grootgeword, waar hy steeds woon. Na skool het hy deur Damelin klankingenieurswese studeer en in hierdie tyd het sy pad met Ben van Zyl gekruis. Kort daarna het hulle besluit om saam die groep, Marcato, te begin.

“Musiek is in alle opsigte deel van my lewe en ek is in my element wanneer ek die passie aan ander mense kan oordra – in watter vorm dit ook al mag wees. Dit is een van die dinge wat mense bymekaar kan bring en dis vir my ’n eer om deel te wees daarvan,” vertel hy oor sy loopbaan so vêr.

Ten spyte van sy besige skedule, het dié veelsydige ster in 2017 saam met Altus Theart (Getroud Met Rugby) en Jerry Spangenberg die alternatiewe popgroep, EON, begin. Dié groep het reeds ’n baie groot aanhang en hulle debuut-enkelsnit, BITTERSOET, was dadelik ’n treffer. Ligjare, hulle eerste album, het sedertdien verskeie ander gunstelinge opgelewer en die trio is deesdae ’n bekende gesig by die meeste groot musiekfeeste in die land.

LEKKER TYE bring hoop en samesyn, en is vir seker ’n treffer wat vriende en familie binnekort op die dansvloer sal herenig.

https://open.spotify.com/track/7yRSLP86kLpNwGoG2hn8gn?si=wi03-YkDTC2T07vDTV6LXw

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook, Instagram, Twitter

Lees meer hier:

Pieter Marcato stel langverwagte eerste enkelsnit vry.