fbpx
Michael W Smith Dokumenter nou beskikbaar

Michael W Smith Dokumenter nou beskikbaar

Wanneer die onmisbare geleentheid verbykom om ’n dokumentrê oor ’n bekende kunstenaar te verfilm, gryp jy dit aan. In besonder as díe man Michael W. Smith is. Dit is presies wat Stefan Enslin, Hoof van Vervaardiging by RoepTV.com gedoen het.

In die Suid-Afrikaanse filmkringe is Stefan omtrent so bekend soos MWS in die internasionale Gospel-kringe, wat hierdie ’n wenkombinasie maak. Stefan het groot sukses bereik as filmmaker, skrywer en vervaardiger van verskeie bekende films. Verskietende Ster, Strikdas, Nul is nie Niks nie, Liewe Kerfeesvader en Klein Karoo is van die mees bekende films waarby hy betrokke was.

Michael W. Smith is geen onbekende in Suid-Afrika nie en het al verskeie male deur ons land getoer. Dié welbekende én geliefde Amerikaanse musikant het al sukses op verskeie kommersiële en Gospeltrefferparades bereik. Met meer as 18 miljoen albums reeds verkoop, spreek sy sukses vanself.

Tydens MWS se laaste toer in 2019 het Stefan en sy span die dokumentêr verfilm. Weens MWS se drukprogram, moes elke detail haarfyn vooraf beplan word. Maar selfs fyn beplanning moet voorsiening maak vir die onvoorsiene … weens ’n paspoortprobleem het MWS byna sy eerste vertoning misgeloop.

Die paspoortdrama het ook ’n effek gehad op Stefan se beplande verfilming. Daar was reeds slegs twee dae beskikbaar vir die verfilming van ’n dokumentêr van 30 minute. Die verlore tyd het daartoe gelei dat die hele konsep vir die dokumentêr aangepas moes word soos die dae ontvou het. Dit het Stefan se kreatiwiteit en vernuf as regisseur en vervaardiger getoets en maak die produk soveel merkwaardiger.

Hierdie dokkie handel nie oor wie MWS is nie, maar oor hoe die Here hom gebruik om selfs die een verlore kind te gaan red. “Dit gee ’n blik op hoe MWS sensitief is vir die kragtige werking van God en die Heilige Gees,” vertel Stefan. Dit wys ook vir ons waarom hy so ’n gerespekteerde kunstenaar is. Dit sluit dan so mooi aan by hom wat nie toegelaat was om op die vliegtuig te klim nie, want dit bewys net weereens vir die kyker dat God ander planne het met ons almal.

Stefan was nog altyd ’n aanhanger van MWS en het hom die eerste maal sien optree in Londen se Royal Albert Hall. Die herinnering is afgeëts in sy gedagtes. Hy het nooit gedink dat hy eendag ’n dokumenter oor MWS sou doen nie, wat nog te sê van ’n onderhoud voor die kameras waar hy gewoonlik agter die kameras is …

Michael kan beskryf word as ’n nederige kunstenaar wat diep omgee vir mense. “Hy wil regtigwaar mense gelukkig sien in ’n diep verhouding met Jesus,” sê Stefan. Dit gaan nooit oor hom nie en dit is hoe Stefan die paar dae van sy lewe vasgevang het.  

Die dokumenter is beskikbaar op RoepTV.com, die aanlyn Christelike digitale TV-kanaal met Christenfilms en -reekse.