fbpx
Luister – Jacobus Silwer bring iets heeltemal anders.

Luister – Jacobus Silwer bring iets heeltemal anders.

Jacobus Silwer, bekend vir GENADE VIR AFRIKA, en meer onlangs, STROME LEWE, het op aandrang van befaamde Afrikaanse liedjieskrywer en kunstenaar, Coenie De Villiers, met hierdie nuwe snit van hom by Mauritz Lotz gaan aanklop …

Ek het oudergewoonte in my musiekbinnekant aan die jeuk gegaan en in molle en kruise begin dink, maar dié keer, vir die eerste keer, voor ons 1878 klavier gaan sit. Gewoonlik sou ek dadelik die kitaar gryp en begin drukke soek maar hierdie keer was dit anders. Ek wou ’n lied skryf wat met so min as moontlik woorde die meeste sê.

“Ek het met enkelnote begin en toe die akkoorde bygevoeg, woorde het begin vloei en 45 minute later is LUISTER gebore! ’n Boodskap vir my vrou, Lizzie. Ek dink dis die woorde wat elke mens wil hoor – jou naam beteken vir my LIEFDE.”

LUISTER is die sewende enkelsnit uit dié musikant se eie pen en hy pas sy growwer stem aan om by LUISTER se intieme, sagte intensiteit in te pas. Die lied klink soos ’n vermenging van John Legend en Josh Groban se amper klassieke benadering met ’n moderne aanslag. Die snit breek mure af en klink soos iets wat nog by baie troues die openingsdans gaan wees!

Ek glo LUISTER sal mense roer om daardie ou vlam weer op te steek, ons is nie vir altyd hier nie, dis ’n gawe van ons Here om te mag liefhê,” sê hy.

Jacobus is in Pretoria gebore en kom uit ’n baie musikale familie. Hy kan verskeie instrumente bespeel, onder andere kitaar, klavier en mondfluitjie.

Hy het verskeie kompetisies gewen tussen 1998 en 2012 maar sy grootste deurbraak was in 2012 toe hy gekies is om deel te neem aan die kykNET-program, Ons Soek Die Sanger, waar hy met ’n driejaarkontrak by Select Musiek weggestap het as deel van die duetgroep, Silwer en Goud. “Kontakte is baie belangrik, ek het na Ons soek die Sanger die regte mense ontmoet.”

Sedert hy in 2016 sy sololoopbaan hervat het, het hy ses enkelsnitte (GENADE VIR AFRIKA, ANDERKANT DIE MUUR, WEGKRUIPPLEK, DAGDROOMVASTRAP, HOND SE KIND en STROME LEWE) en ’n album vrygestel.

Die musiekvideo van sy eerste solo-album, GENADE VIR AFRIKA, is baie goed ontvang en deur duisende op facebook en YouTube gekyk. Oor die laaste ses jaar, het sy loopbaan van krag-tot-krag gegroei.

Hy het die musiek en lirieke geskryf vir twee Passiespele en hy en sy groep, wat bestaan uit sy vrou, Lizzie (trekklavier), en sy broer, JC (baskitaar), het ook in 2016, 2017, 2018 en 2019 die The Best of Bloem-toekenning gewen vir Beste Plaaslike Groep.

Wanneer hy nie doenig is met musiek en lirieke, of besig is om op te tree nie, werk hy aan sy kunsloopbaan waar hy spesialiseer in swart BiC Balpuntpensketse van veral Kremetartbome.

Daar is vir my ’n stil wysheid in ’n boom. Daardie Eikebome wat al vir 400-jaar op Lourensfort in die Kaap in ’n ry staan, inspireer my!

Ek het onlangs my eie uitstalling in ’n kunsgalery, Gallery on Leviseur, in Bloemfontein gehou, en ek en my vrou (wat ongelooflik skilder, druk, en foto’s neem), het in Oktober saam daar uitgestal.”

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram