fbpx
Hartseer en vreugde – kerntemas van nuwe rolprent

Hartseer en vreugde – kerntemas van nuwe rolprent

Die bekroonde Spaanse regisseur, Pedro Almodóvar, se nuutste rolprent – ’n verhaal van herinneringe, spyt en aanvaarding – is sy beste en mees persoonlike werk tot op datum. PAIN AND GLORY laat die lyne tussen kuns en lewe vervaag en is ’n mengsel tussen outobiografiese inligting en fiksie, met ’n kragtige effek.

Soos die titel verklap, is die eindresultaat ’n warrelwind van hartseer en vreugde, wat kykers – van begin tot einde – sal boei.

Antonio Banderas lewer puik toneelspel as die regisseur en rolprentlegende, Salvador Mallo, en is ook regdeur die fliek te sien in Almodóvar se kleurvolle hemde en skoene. Die akteur, met ’n bos hare en baard wat plek-plek grys word, groei en krimp saam met die storielyn en vang dus die karakter se sterk- en swakpunte perfek vas.

Salvador ly aan verskeie kwale wat op die ou end veroorsaak dat hy nie meer films kan maak nie. Fisiese en emosionele pyn veroorsaak dat hy in ’n siklus van depressie verval.

“Ek ken die vrees daarvan om nie in staat te wees om flieks te maak nie baie goed en kan daarmee vergelyk,” verduidelik Almodóvar vanuit ’n persoonlike perspektief.

’n Toevallige ontmoeting plaas hom in kontak met een van sy oud-kollegas, Alberto (Asier Etxeandia), wat van hom vervreem geraak het as gevolg van sy dwelmverslawing.

Alberto het nog nie volkome van sy verslawing genees nie, maar Salvador se risiko om in verslawing te verval is baie hoër as syne. Hulle nuutgevonde vriendskap word getoets nadat hulle bedwelm by die voorskou van een van hulle ou rolprente opdaag, met katastrofiese en skreeusnaakse gevolge.

Nadat hy ’n persoonlike monoloog op Salvador se skootrekenaar sien, oortuig Alberto vir Salvador om hom toe te laat om dit op te voer as ’n eenmanvertoning. Salvador stem in, op voorwaarde dat hy nie as skrywer gelys word nie. Hierdie eenvoudige aksie het ’n reeks gebeure tot gevolg wat lei tot ’n merkwaardige en baie teer herontmoeting.

PAIN AND GLORY het twee storielyne: Die huidige, waarin Salvador en Alberto hulle vriendskap hervat en hy verslaaf raak aan heroïne, pynmedikasie en alkohol, wat hom dieper-en-dieper in ’n wêreld van herinneringe laat verval – waaruit die tweede storielyn voortspruit.

Die terugflitse onthul geleidelik hoe Salvador en sy ma, Jacinta (Penelope Cruz), tydens sy kinderjare in ’n armoedige grotagtige huisie gebly het. Julieta Serrano, wat ’n puik vertolking lewer as sy ma in haar 80’s, verklap in ’n helder oomblik dat hy nooit ’n goeie seun was nie.

Die film bied blokke van hoogs gechoreografeerde kleur wat kenmerkend is van Almodóvar en net so visueel opvallend is soos sy vorige flieks. Die vertelling is boonop elegant gestruktureer en die atmosfeer is nadenkend.

Die pragtige klankbaan deur Alberto Iglesias, pas perfek by die verskuiwende fokus van die film – van die warmte van die vroeë kinderjare, tot die opwinding van Jacinta se laaste dae en die spanning en angs in Salvador se lewe.

Dit alles dra by tot ’n ryk bevredigende werk van ’n rolprentregisseur wie se liefde vir flieks maak, in al sy pyn en glorie, deur elke toneel skyn.

Hierdie semi-outobiografiese stuk oor ’n legendariese filmmaker wat oor sy loopbaan nadink, is ongetwyfeld een van Almodóvar se beste werke ooit. In kommentaar op die film, het Banderas gesê: “Is ons net die dinge wat ons gedoen het en wat ons gesê het? Of is ons ook die dinge wat ons nog nooit gesê het nie? Die dinge wat ons wou doen en nooit gedoen het nie? In hierdie geval is die film van Pedro Almodóvar meer Almodóvar as Almodóvar. Op ’n sekere manier voltooi hy sekere prentjies uit sy eie lewe met die maak van hierdie fliek.”

PAIN AND GLORY is ’n studie van aanvaarding, openbaring en versoening; dit gaan oor flieks se verhouding met die verlede en die krag wat dit het om herinneringe te herskep en aanvaarding te bewerkstellig.

Die rolprent, wat by die Europese Rolprentfees (27 November tot 8 Desember) vertoon sal word, is Spanje se amptelike Oscar-inskrywing vir die Buitelandse Rolprent-afdeling. Dit het ook reeds twee toekennings ingepalm by die Cannes-filmfees vir Best Akteur (Antonio Banderas) en Beste Komponis (Alberto Iglesias).

PAIN AND GLORY word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal by plaaslike bioskope begin draai op 6 Desember 2019.