fbpx
Kyle Grant sing oor sy Kersfeeswenslys

Kyle Grant sing oor sy Kersfeeswenslys

Daar is min musikante wat erkenning kry vir hulle uitsonderlike talent as solokunstenaar nadat hulle aanvanklik sukses behaal het as deel van ’n bekroonde musiekgroep. Kyle Grant is een van hulle en bewys dit met die vrystelling van sy nuwe Kersballade, GROWN-UP CHRISTMAS, wat beslis hartsnare gaan aanraak.

GROWN-UP CHRISTMAS LIST, wat in 1990 oorsee uitgereik is, is ’n inspirerende gesprek met Kersvader vanuit ’n volwassene se perspektief. Die liedjie, opgeneem en vervaardig deur Muse Productions se Hugo Ludik, is die sanger se eerste solo-poging na die nuus dat ADAM gaan ontbind.

“Die snit bevat ’n lys van goeie wense vir die mensdom,” verduidelik Kyle. “Ek het dit vir die eerste keer gehoor tydens ’n vakansie in die VSA toe ek ’n tiener was. Ek onthou hoe baie ek deur die boodskap geraak is, maar het dit nog nooit op plaaslike radiostasies gehoor speel nie. Volgens my, is dit beslis ’n boodskap wat alle Suid-Afrikaners nodig het om op hierdie oomblik te hoor.”

Alhoewel daar beslis baie ander Kersfeesvrystellings gedurende die feesseisoen gaan wees, glo Kyle dat GROWN-UP CHRISTMAS LIST goed ontvang sal word, omdat dit ’n eerlike lied is wat sal aanklank vind by gehore van alle ouderdomme. 

“Ek is ’n diep en sentimentele persoon, met baie empatie vir my medemens. Eerlikheid is vir my die belangrikste eienskap waaroor ’n sanger moet beskik. Ek glo dat jy self eers geïnspireer moet wees voordat jy ander kan inspireer,” meen Kyle. “Dit is vir my regtig belangrik dat plaaslike luisteraars hierdie lied moet hoor.”

GROWN-UP CHRISTMAS LIST is nie die kunstenaar se eerste solo-enkelsnit nie. Hy het reeds op die ouderdom van sewentien groot sukses behaal met ’n oorspronklike snit genaamd I WANT IT TO BE ME. Hy het ook natuurlik ’n goue album en verskeie radio-treffers (GOUD, HOOGTEVREES, SAL OORLOG VIR JOU MAAK, SÊ MY, SAY WHAT YOU WANT, HOW, VERGIFNIS, KALMEER) vrygestel as ’n hoofsanger van ADAM. 

Musiek is beslis in Kyle se bloed. “My ouers was albei professionele, korporatiewe musikante en my ouma was ’n operasanger. Musiek is my waarheid en toevlug. Dit is al hoe ek myself werklik kan uitdruk,” sê hy.

Buiten vir die feit dat hy al vir sestien jaar in die musiekbedryf doenig is, is hy ook ’n suksesvolle verhoog- en televisieakteur. Hy het die hoofrol gespeel in die internasionale musiekproduksies, Dirty Dancing en High School Musical, asook in verskeie plaaslike verhoogstukke. Op die kassie het hy al rolle gehad in onder meer Egoli, Backstage en Getroud Met Rugby. Sy grootste loopbaanhoogtepunt sover was egter vir hom om ’n Suid-Afrikaanse Musiektoekenning (SAMA) te ontvang.

Kyle put inspirasie uit ware verhale en alledaagse gebeurtenisse. “Mense is altyd opsoek na iets wat met die siel praat om minder alleen te voel,” verduidelik hy en verklap dat hy graag ’n sielkundige of berader sou wou wees as hy nie kon sing nie. 

“Ek is ’n stemafrigter en spandeer die helfte van my lesse daaraan om na my studente te luister en hulle te ondersteun. Dis iets waarmee ek nog altyd goed was. Ek hou daarvan om ander te help en te lei waar ek kan,” vertel die sanger.

Alhoewel Kyle alle musiekgenres waardeer en ’n gunsteling-kunstenaar op elke gebied het, meen hy dat Frank Sinatra, Boyz II Men, Sting, Ard Matthews en Chris Chameleon die grootste invloed op sy eie styl gehad het. Hy beplan om binnekort verskeie saamwerkprojekte aan te pak saam met van sy grootste rolmodelle.

Oor sy besluit om ’n sololoopbaan na ADAM aan te pak, sê hy: “Deur al die hoogte- en laagtepunte van die ervaring, kon ek my ware self ontdek. Dit het my geleer wat ek wil en nie wil hê nie in die lewe.”

Sy toekomsplanne, op ’n persoonlike vlak, sluit in om ’n gesin saam met sy vrou te begin. Professioneel sal hy graag wil aanhou sing en sy passie uitleef. GROWN-UP CHRISTMAS LIST is beslis ’n ongelooflike manier om hierdie nuwe hoofstuk in sy lewe mee af te skop.

Die liedjie is nou beskikbaar op alle digitale platforms hier:

https://open.spotify.com/album/2niw8xiwy2tM0U3IkB7S5c?si=dDvqStG2Srqxr7ui4y4kWw

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram