MOFFIE se klankbaan versterk boodskap

MOFFIE se klankbaan versterk boodskap

MOFFIE is die befaamde regisseur, Oliver Hermanus, se jongste fliek, gegrond op die gelyknamige memoir deur André-Carl van der Merwe.

Dit is die storie van ’n jong dienspligtige wat die alledaagse wreedheid van die weermag in die 1980’s tydens apartheid in Suid-Afrika probeer oorleef, en is deur resensente wêreldwyd geloof sedert die première by die Venesiese Filmfees in September 2019. 

Oor sy besluit om MOFFIE die titel te maak, sê Hermanus dit gaan veral oor die impak van die woord. Hy het nog altyd ten doel gehad om ’n fliek met die naam te maak.

Die enigste plek in die wêreld waar dit enigiets beteken is hier, in Suid-Afrika. Ek het al die wêreld heen met die fliek getoer, maar die gehoor wat die meeste daardeur geraak is, my teikengehoor, is my mede-Suid-Afrikaners.”

Die fliek se titel is juis so groot en in jou gesig omdat die doel daarmee is om die woord te de-aktiveer. Soveel ouens (homoseksueel of nie nie) is al moffies genoem net omdat hulle “anders” of meer “verfynd” of kunssinnig is.

Dit gaan juis oor hoe hierdie spesifieke woord gebruik word om jong mans (18 jaar oud) af te breek. In die werklikheid kan enige woord wat negatief is ’n mens so afbreek. In hierdie geval is die fokus op die gebruik van die woord MOFFIE. Die film spreek dus in werklikheid tot ’n baie wyer gehoor.  

Om die film se emosies perfek vas te vang, speel nie net verfilming ’n reuserol nie, maar die klank ook.

Braam Du Toit is verantwoordelik vir die fliek se pragtige en oorspronklike klankbaan. Hy het die rol van komponis ingeneem, asook vervaardiger van die klankbaan. Die klankbaan moes op twee konsepte fokus, sê hy: “Afwagting en die naderende grens.”

Ek dink die versoening van die visuele met musiek sal hopelik ’n verskeidenheid gevoelens en gedagtes in mense ontketen en dat die musiek op die einde van die dag die verhaal help vertel,” hoop hy.

Braam en die regisseur, Oliver Hermanus, het al voorheen op The Endless River saamgewerk. “Dié keer het Oliver my regtig gedruk om my beste te gee. Hy is ’n bron van inspirasie en ’n baie stimulerende mens, maar ook iemand met baie hoë standaarde en hy verwag die beste van sy medewerkers. Dié fliek het baie energie geverg en ek moes diep binne myself delf om die musiek te skryf.”

Braam het ’n kwintet gebruik om emosies by die kyker te ontlok. “Aanvanklik wou ek vir ’n kwartet geskryf het, maar het besef dat die musiek meer intensiteit en diepte benodig, en het toe ook musiek vir ’n kontrabas geskryf.

“Daar is oomblikke in die fliek, byvoorbeeld die toneel in die trein waar die musiektema skielik afwaarts draai, soos aanhoudende dalings. Ek kon nie dié effek met ’n tjello kry nie; ek het regtig ’n kontrabas benodig en het toe musiek vir twee viole, ’n altviool, ’n tjello en ’n kontrabas geskryf.”

Braam en sy span talentvolle musikante het die klankbaan oor die loop van ’n week in ’n kerk in Malgas, ’n piepklein dorpie buite Swellendam, opgeneem.

Die klein ensemble van vyf strykers met dirigent het dit makliker gemaak om die musiek saam te ontdek en die klank op ’n subtiele samewerking te ontgin. Die akoestiek van die kerk het ook ’n groot bydrae gemaak tot die atmosfeer en egtheid van die klank. Almal het ook besef dat ons besig was met werk vir iets besonders en dit het ’n sterk fokus tussen die musikante behou.” Verdere opnames is in die Endler-saal in Stellenbosch gemaak.

Die film spog ook met ’n gestroopte herskepping van Rodriguez se SUGAR MAN. Hermanus het op die nippertjie besluit om die regte vir die liedjie te bekom en in die fliek te gebruik.

Met slegs tien dae oor voordat die fliek moes klaar, het Hermanus na die musiekvervaardiger Ben Ludik uitgereik. Hy het vir Ludik gevra om die liedjie met ’n vrouestem in iets nuut te omskep wat hy dan as ’n onuitwisbare lied aan die einde van die fliek kon gebruik.

 “Elke vervaardiger droom daarvan om gevra te word om ’n ikoniese liedjie in iets nuuts te omskep,” sê Ludik. “Ek glo Oliver het besluit om SUGAR MAN in MOFFIE in te sluit omdat dit ’n lied oor ’n hunkering na ontsnapping is,” – soortgelyk aan die fliek se hoofkarakter, Nicholas (Kai Luke Brümmer) se ervaring.

Die liedjie het ’n spesiale stem nodig gehad om daardie broosheid en hunkering weer te gee.” Om dít te bewerkstelling, het Ludik die sanger Rebekah Thompson se ryk altstem ingespan.

“Die eerste keer wat ek Rebekah se stem gehoor het, het ’n donker toon in haar stem my getref – ’n hunkering na die beroemde altstemme van die 80’s,” sê Ludik. “Dit voorsien die perfekte kontras vir dit wat ek met MOFFIE se weergawe van SUGAR MAN wou bereik.

Braam se wens vir die Suid-Afrikaanse Filmbedryf is dat daar meer projekte sal kom waar daar saam met briljante musikante gewerk kan word om die musiek saam met hulle te ontdek en verfyn. “Waar die musikante ook die geleentheid gegee word om, soos in hierdie projek, hul eie inslagte by te dra en iets ryker te vorm.”

Braam du Toit – Klankbaanvervaardiger

Braam du Toit het grootgeword op Swellendam en begin op 16-jarige ouderdom musiek, asook sy eerste komposisies, vir klavier en koor skryf.

Sedertdien het hy musiek vir meer as 40 plaaslike teaterproduksies gekomponeer. Du Toit se konsertstukke word ook op verskeie internasionale verhoë uitgevoer.

Plaaslik het hy in 2014 die opera Poskantoor geskryf waarvoor hy ’n Fiësta toekenning vir beste prestasie in klassieke musiek ontvang het.

Hy het ook musiek vir Louis Pretorius en Albert Snyman se Die Boekklub en Fynskrif geskryf waarvoor hy in 2019 ’n SAFTA Golden Horn toekenning ontvang het vir beste musiek vir ‘n TV-drama.

MOFFIE se rolverdeling sluit Kai Luke Brümmer, Hitlon Pelser, Matthew Vey, Stefan Vermaak en Ryan de Villliers in. Eric Abraham en Jack Sidey is die vervaardigers met Theresa Ryan-van Graan as mede-vervaardiger.

MOFFIE is vervaardig deur Portobello Productions en Penzance Films.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram, Twitter