fbpx
Reynardt Hugo se debuut-enkelsnit kry ‘n musiekvideo!

Reynardt Hugo se debuut-enkelsnit kry ‘n musiekvideo!

Reynardt Hugo het beslis geen bekendstelling in vermaakkringe nodig nie. Hy kuier elke aand in sitkamers regoor die land, in die rol van dr. Tertius Jonker op die kykNET-sepie Binnelanders, en was tot onlangs nog deel van die gewilde mansgroep, ADAM.

Dié veelsydige ster se debuut-enkelsnit, DIE RIVIER, is onlangs vrygestel en het soos ’n veldbrand op sosialemedia versprei. Nóú is die musiekvideo van hierdie liedjie, wat reeds die trefferleer op verskeie radiostasies begin klim het, ook beskikbaar!

Son Of Wolf Films was die kreatiewe brein agter hierdie besonderse projek wat in ’n teater in Centurion en ’n straat in Parkhurst afspeel. In die video sing Reynardt sy hart uit, terwyl hy op die verhoog is en in die straat loop.

Dit dra nie net by tot die opwindende gevoel van die lied nie, maar sal die kyker ook vry en sorgeloos laat voel. “Terwyl ons in die straat verfilm het, het baie mense uit hulle huise geloer om te sien waarmee ons besig was. Dit was seker ’n vreemde gesig, maar ek het elke oomblik geniet”, deel hy ’n staaltjie oor wat agter-die-skerms gebeur het.

Kyk die video hier

Hierdie inspirerende popsnit, wat hy saam met Abel Knobel en Sean Butler geskryf het, is vir die sanger baie persoonlik omdat sy eie struikelblokke en lewe die inspirasie was agter die betekenisvolle lirieke.

Dis ’n titel waarmee ek al vir baie lank in my hart rondloop“, verklap hy. “Dit gaan oor hoe ek my hart vir die Here gegee het. Hoe ek myself moes vergewe vir goed wat ek in die verlede gedoen het en mense moes uitsny wat ’n slegte invloed op my gehad het. Dat die Here se genade genoeg is en dat ek alles in my vermoë sal doen om eerder in die lig as in die donker te leef.”

DIE RIVIER is een van daardie liedjies wat onmiddellik jou aandag trek wanneer jy dit hoor, juis omdat dit so anders is, en jou sal uitnooi om saam te neurie om die maat van die motiverende ritme. Volgens Reynardt sal oud en jonk daarby aanklank vind omdat dit ’n verskillende betekenis vir elkeen kan inhou.

“Daar is baie temas wat in die liedjie voorkom, maar die hoofboodskap is dat iemand in jou lewe kan inkom om jou te help om die seerkry van die verlede agter te laat. Hoe die Here jou skoonwas van al jou foute en Sy genade oor jou laat spoel,” verduidelik hy. “Baie mense leef met seer en het hulp nodig, maar weet nie hoe om daarvoor te vra nie. Ek hoop dat hierdie lied luisteraars sal help om hulleself en diegene rondom hulle weer te respekteer, want die lewe gaan oor meer as net seks, dwelms en rock ’n roll.”

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram, Twitter, YouTube

Webblad: www.reynardthugo.com

Vorige artikel: https://www.plectrummusiek.co.za/reynardt-hugo-se-eerste-solo-enkelsnit-is-hier/