fbpx
Sky Ocean maak MAGNEET-iese musiek!

Sky Ocean maak MAGNEET-iese musiek!

Sky Ocean het een van daardie stemme wat jou in jou spore laat vassteek wanneer jy haar vir die eerste keer hoor sing. Daar is hoendervleismooi emosie en ’n strelende klank in haar stem wat jou uitnooi om verlore te raak in haar musiek.

MAGNEET is die nuutste enkelsnit wat Sky Ocean bekendstel en kom uit die pen van Marli Mulder (Sky Ocean), Sean Butler en Abel Knobel.  Hierdie voet-stamp alternatiewe pop liedjie met ’n country aanslag is verwerk en vervaardig deur Sean Butler van Melody Lane Studios.

Die lewendige enkelsnit handel oor die aantrekkingskragte tussen twee mense wat soos ’n magneet se Noord-en Suidpole na mekaar getrek word en ’n konneksie vorm in ’n oomblik van aanraking.  Marilie glo dat elke jong dame in haar fantasiewêreld dagdroom van daardie bosbrand, vuurwerk, verskietende ster ontmoetingsoomblik in liefde.

Maar dit kan somtyds net so moeilik wees om daardie oomblikke te vergeet. Veral as jy dieper in die liefde ingeduik het en die lig glashelder geskyn het. ’n Eens in ’n leeftyd tipe konneksie. “Ek is oortuig daarvan dat almal dit al beleef het of minstens een keer in hulle leeftyd so ’n magnetiese konneksie sal maak met iemand.” 

Daar is nie vir haar ’n spesifieke oomblik wat sy besef het dat sy ’n musikant wou word nie en meen dat dit iets is wat net nog altyd daar was. Sy kon immers sing voordat sy kon praat en oor die jare het haar passie vir musiek net meer-en-meer gegroei.

Die kunstenaar het waardering vir ’n wye verskeidenheid musiek (veral uit die tagtigs en deur Demi Lovato) en beskou die internasionale ster, Demetria Devonne Lovato, as een van die grootste invloede op haar eie outentieke musiekstyl.

As jy haar vra waar sy die inspirasie vir haar lirieke vandaan kry, antwoord sy dat dit soms van persoonlike ervarings of uit ander mense se stories kom, maar dat sy net iets kan sing as sy haar eie hart daarvoor oopmaak. Sy verklap ook dat sy oorspronklik teologie wou gaan studeer het, maar dat die Here ’n ander plan vir haar gehad het.

Daar is nog baie wat sy in die toekoms wil bereik en sy is nie bang om groot te droom nie. “Ek skiet vir die maan, en wie weet, dalk eindig ek dalk nog tussen die sterre op. Daar is nie ’n ander opsie as musiek nie, geen plan B nie,” deel sy. Die musiekbedryf het haar geleer dat harde werk, uithouvermoë en geduld die sleutelbestanddele is tot sukses en dat jy nooit in jouself moet twyfel nie. 

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram

Webtuiste: www.skyocean.co.za