fbpx
Kontras verras met nuwe enkelsnit en video

Kontras verras met nuwe enkelsnit en video

Suid-Afrika se nuutste Alternatiewe Afrikaanse sensasie, Kontras, is terug met ’n splinternuwe enkelsnit, VELDE. Die snit is die eerste vrystelling van hul beplande album, Ruimtevaarder, wat vroeg in September uitkom. VELDE word vandag op alle platforms vrygestel.

Indien jy ’n aanganger is van Spoegwolf, Fokofpolisiekar of Die Heuwels Fantasties, is VELDE perfek vir jou. Die snit handel oor swaarkry, hartseer en frustrasie, maar vind hoop in die klein, alledaagse gelukkies wat ons om ons vind.

Hierdie Stellenbosch-band het hul oorsprong gevind in punk musiek, maar VELDE beklemtoon hoe hulle gegroei het om ’n ligter en meer hartroerende produk bymekaar te kan slaan wat aanklank sal vind by alle Suid-Afrikaners.

VELDE ontvang ook ondersteuning met ’n aanloklike musiekvideo, verfilm deur Hugo Brand (Spoegwolf, Die Heuwels Fantasties, Loki Rothman) wat reeds vroeër die week vrygestel is aan die publiek. 

Kontras se unieke naam spruit voort daaruit het ons almal in kontras is – “ons haat die dinge wat onsself die meeste doen,” verduidelik die groep. Die viermanskap bestaan uit Jacques Groenewald, Louwrens Labuschagne, Andrew Veldman en Daniël Botha.

Vanaf hul uitverkoopte debuut in Februarie 2019 het Kontras al verskeie suksesse bereik gedurende hul kort bestaan. Hul enkelsnit MIDDELKLAS MIDDELMAN se musiekvideo is tans te sien op KykNET. Die snit het ook erkenning ontvang in bekende publikasies soos Huisgenoot – “die akoeste verwerking sal mense in n rokerige kroeg in vervoering hê.

MIDDELKLAS MIDDELMAN het ondersteuning gekry vanaf Afrikaans is Groot wat dit as deel van hul amptelike Alternatief is Groot speellys op Spotify geplaas het. Verder het Spotify die snit op hul amptelike Afrikaans Pop Hits speellys geplaas en kry dit tans konstante speeltyd op Apple Music se Alternatiewe Afrikaans speellys waar hulle die kollig deel met Afrikaanse legendes soos Francois van Coke, Fokofpolisiekar, Karen Zoid, Die Heuwels Fantasies, aKING en Jack Parow.

Binne enkele weke vanaf vrystelling het Kontras meer as 35 000 speelkanse op digitale platforms gekry en is dit steeds besig om vinnig te groei. Kontras se musiek kan gehoor word op radiostasies regoor Suid-Afrika.

Die gewilde groep is gereeld ook by feeste te sien. Hulle het al verskeie feeste soos Rocking Stellies, The International Tequila Festival en I Love Stellies gespeel waar hulle verhoë gedeel het met kunstenaars soos Fokofpolisiekar, Jack Parow, The Plastics, Willim Welsyn, The Kiffness, Straatligkinders, Early B, Van Pletzen, YoungstaCPT, Tasché en Die Heuwels Fantasties.

Kontras se musiek, insluitend VELDE, is beskikbaar op alle digitale platforms: Spotify, iTunes

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram

Webblad: https://kontrasband.com