fbpx
Swipe Regs vir Pieter Marcato se nuwe musiekvideo!

Swipe Regs vir Pieter Marcato se nuwe musiekvideo!

Om ware liefde aanlyn te vind, is deesdae glad nie ’n vreemde verskynsel nie en talle paartjies het al suksesvolle verhoudings met die druk van ’n knoppie gebou.

In Pieter Marcato se nuwe musiekvideo, wat deur Trots Afrikaans vervaardig is en onder andere op die dak van die Fintech-gebou in Lynnwood verfilm is, ontmoet die hoofkarakter juis die liefde van sy lewe tydens ’n Tinder-afspraak.

“Lucretia Labuschagne, van Trots Afrikaans, was die kreatiewe brein wat die storiebord vir SWIPE REGS se video aanmekaar gesit het en Marlize Coetzee is te sien in die vroulike hoofrol,” verduidelik hy. “Ek dink die musiekvideo pas perfek by die storie van die liedjie en dat mense daarvan gaan hou.”

Kyk die video hier:

Die enkelsnit, wat onlangs vrygestel is, is ontsettend goed ontvang en kan tans op alle groot radiostasies gehoor word. Dit is ’n lekkerluister Afrikaanse popliedjie, uit Pieter se eie pen, met ’n opgewekte ritme wat jou voete sal laat jeuk om te dans.

Volgens die kunstenaar, is SWIPE REGS deur ’n ware verhaal geïnspireer: “Een van my beste vriende het onlangs met sy sielsgenoot getrou. Hulle het op ’n afspraaktoepassing (dating app) ontmoeten dit het my laat besef dat mense mekaar op verskillende maniere kan ontdek. Ek dink luisteraars gaan aanklank vind by die lirieke en dit geniet om saam te sing en dans.”

Sy nuutste vrystelling volg in die voetspore van sy debuut-enkelsnit, AS JY VRA , wat in 2019 uitgereik is en steeds oor die radio gehoor kan word.

Pieter het in Pretoria grootgeword, waar hy steeds woon. Na skool het hy deur Damelin klankingenieurswese studeer en in hierdie tyd het sy pad met Ben van Zyl gekruis. Kort daarna het hulle besluit om saam die groep, Marcato, te begin wat vandag nog bestaan.

Oor die jare was hy deel van verskeie groot musiekproduksies, waaronder die Simon and Garfunkel Tribute ShowBob Dylan Tribute Show en die ACDC Tribute Show, wat almal verskeie jare opgevoer is. Hy is ook die stigterslid van Legato Records, wat ’n hele aantal musikante huisves.

“Musiek is in alle opsigte deel van my lewe en ek is in my element wanneer ek die passie aan ander mense kan oordra – in watter vorm dit ookal mag wees. Dit is een van die dinge wat mense bymekaar kan bring en dis vir my ’n eer om deel te wees daarvan”, verklap hy oor sy loopbaan sover.

Ten spyte van sy besige skedule, het dié veelsydige ster in 2017 saam met Altus Theart (Getroud Met Rugby) en Jerry Spangenberg die alternatiewe popgroep, EON, begin. Dié groep het reeds ’n baie groot aanhang en hulle debuut-enkelsnit, Bittersoet, was dadelik ’n treffer. Ligjare, hulle eerste album, het sedertdien verskeie ander gunstelinge opgelewer en die trio is deesdae ’n bekende gesig by die meeste groot musiekfeeste in die land.

Pieter Marcato het voorwaar baie ysters in die vuur, maar dit is juis sy passie vir musiek en harde werk wat hom gebring het tot waar hy nou is.

SWIPE REGS stel nie net ’n ander sy van dié dinamiese kunstenaar aan die publiek bekend nie, maar bou ook voort op die nuwe en opwindende hoofstuk van sy loopbaan waarmee hy tans besig is. 

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram, Twitter