fbpx
Reynardt Hugo se eerste solo-enkelsnit!

Reynardt Hugo se eerste solo-enkelsnit!

Reynardt Hugo het geen bekendstelling in vermaaklikheidskringe nodig nie. Hy kuier elke aand in sitkamers regoor die land as dokter Tertius Jonker op die kykNET-sepie Binnelanders. Hy was tot onlangs ook nog deel van die gewilde sanggroep, ADAM.

Nou staan dié veelsydige ster op die drumpel van ’n splinternuwe en opwindende hoofstuk van sy musiekloopbaan met die vrystelling van sy eerste solo-enkelsnit, DIE RIVIER, wat reeds oor die radiogolwe gehoor kan word.

Hierdie inspirerende popsnit, geskryf saam met Abel Knobel en Sean Butler, is vir die sanger baie persoonlik. Sy eie lewe en struikelblokke was die inspirasie agter die betekenisvolle lirieke.

Dis ’n titel waarmee ek al vir baie lank in my hart rondloop,” verklap hy. “Dit gaan oor hoe ek my hart vir die Here gegee het. Hoe ek myself moes vergewe vir goed wat ek in die verlede gedoen het en mense moes uitsny wat ’n slegte invloed op my gehad het. Dat die Here se genade genoeg is en dat ek alles in my vermoë sal doen om eerder in die lig as in die donker te leef.”

DIE RIVIER is ’n liedjie wat onmiddellik jou aandag trek juis omdat dit so anders is. Dit sal jou uitnooi om saam te neurie op die maat van die motiverende ritme. Volgens Reynardt sal oud en jonk daarby aanklank vind omdat dit ’n betekenis vir elkeen kan inhou.

“Daar is baie temas wat in die liedjie voorkom, maar die hoofboodskap is dat iemand in jou lewe kan inkom om jou te help om die seerkry van die verlede agter te laat. Hoe die Here jou skoonwas van al jou foute en Sy genade oor jou laat spoel,” verduidelik hy. “Baie mense leef met seer en het hulp nodig, maar weet nie hoe om daarvoor te vra nie. Ek hoop dat hierdie lied luisteraars sal help om hulleself en diegene rondom hulle weer te respekteer, want die lewe gaan oor meer as net seks, dwelms en rock ’n roll.”

Die musiekvideo van dié treffer word op 13 Maart 2020 vrygestel.

Reynardt is ’n gewilde Suid-Afrikaanse akteur, musikant, liedjieskrywer, motiveringspreker en skrywer. Hy werk al sedert 2008 in die vermaaklikheidsbedryf en het in 2010 saam met Hugo Ludik die groep ADAM begin. ADAM het talle toekennings gewen, ses albums en talle treffers uitgereik, waaronder LIEFDE SOLDAATKASTEELHOOGTEVREESSÊ MY, en IETS IN DIE WATER. Nadat die groep aan die einde van 2019 ontbind het, het die kunstenaar besluit om op sy solomusiekloopbaan te fokus. 

Hy is in Durban gebore, maar het by Hoërskool Zwartkop in Centurion gematrikuleer. Alhoewel hy nog altyd lief was vir musiek, het hy eers in graad elf ontdek dat hy kan sing. Hy het verder eers na skool besluit dat hy graag wil toneelspeel. Vandaar sy besluit om BA Drama by die Universiteit van Pretoria te studeer, waarna hy ’n rol by Binnelanders losgeslaan het.

Deur die jare was hy deel van verskeie suksesvolle teaterstukke en verhoogproduksies, waaronder Houtkruis, het hy gereeld as seremoniemeester opgetree by funksies en het hy ook gasrolle gehad in rolprente soos Pretville en Vuil Wasgoed. Saam met ADAM het hy verskeie Ghoema-, Huisgenoot Tempo- en SAMA-musiektoekennings gewen, en selfs die geleentheid gehad om vir die internasionale groep, Air Supply, te open.

Hy beskryf homself as ’n rustige diere- en koffieliefhebber wat dit geniet om tyd saam met die vrou in sy lewe, en hulle honde te spandeer. Verder geniet hy dit ook om tuin te maak, gimnasium toe te gaan en Raakrugby saam met sy vriende te speel.

Coenie de Villiers, Hans Strydom, Dawid Minnaar, Michelle Botes en Ben Kruger word uitgesonder as sy grootste plaaslike rolmodelle, terwyl Leonardo DiCaprio, Ricky Gervais, Queen en Justin Bieber op internasionale front uitstaan.

Buiten vir die feit dat hy eersdaags met die liefde van sy lewe – An-Maré Roothman – trou, is hy ook besig om te skryf aan ’n boek oor sy lewe, wat hy in samewerking met NB Uitgewers gaan uitgee. Hy speel ook, saam met Leah, die hoofrol in die teaterstuk, Doringrosie, wat in Julie 2020 by die Staatsteater te sien is.   

Die vermaaklikheidsbedryf het vir Reynardt Hugo geleer om sy voete plat op die aarde te hou, en dat harde werk en geduld wel beloon word. DIE RIVIER is ’n pragtige voorskou van wat aanhangers in die toekoms van hierdie talentvolle man kan verwag en is die perfekte manier om hierdie nuwe fase van sy lewe mee af te skop.

Laai die enkelsnit hier af: Apple

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram, Twitter, YouTube

Webblad: www.reynardthugo.com