fbpx
Valeska vang fases van verliefdheid vas in haar nuwe musiekvideo

Valeska vang fases van verliefdheid vas in haar nuwe musiekvideo

Die liefde blom behoorlik in Valeska Muller se splinternuwe musiekvideo wat reeds besig is om soos ’n veldbrand op sosiale media te versprei.

NABY MY NABY JOU, haar nuutste enkelsnit, is ’n pragtige moderne ballade, wat dit regkry om die euforiese gevoel van die liefde vas te vang. Dis ’n spanpoging deur die sangeres en haar vervaardiger, BIGG-T, en kombineer drie genres, Pop, Reggae en Huismusiek, om ’n merkwaardige eindresultaat te skep.

“Hierdie is ’n lied wat ek uit die diepte van my hart geskryf het vir my sielsgenoot. Deur dit te sing, wil ek ware liefde in my lewe laat manifesteer,” verduidelik die sangeres oor die betekenis agter hierdie sielvolle snit.

Kyk die video hier:

Dit was vir Valeska baie belangrik dat die musiekvideo die euforie en kinderlike opgewondenheid van die liedjie behoorlik sou vasvang. Daarom het sy die Hertford Country Hotel met sy pragtige landskap en geboue gekies om as agtergrond vir hierdie liefdesverhaal te dien.

Saint Nic Media, wat ook verantwoordelik was vir haar vorige musiekvideo’s, was weereens aan die stuur van sake en het ’n spesiale kamerategniek gebruik om die beeldmateriaal so natuurlik as moontlik te hou. Stilering is deur die musikant self gedoen, terwyl Hannelie Burger omgesien het na haar hare en grimering.

“Die musiekvideo is geskiet vanuit die liefdesoogpunt van my sielsgenoot en ons het probeer om die verskillende, en soms gesteelde, oomblikke van verlief-wees weer te gee,” verduidelik sy. “Ons deel die opwinding, sensualiteit en kwesbaarheid wat tussen ons groei, soos wat ons met elke oogopslag meer en meer verlief raak. Ek dans, draai, lag en hardloop, want sy teenwoordigheid laat my vry voel. Aan die begin en einde van die verhaal, sien jy ’n skoenlapper. Dit is simbolies van die passie en transformasie wat binne ’n verhouding bestaan.”

Haar nuutste musiekvideo,volg in die voetspore van VERLANGE VAN JOUSKYN JOU LIGGIE VIR MY en VERDWAAL SAAM MET JOU wat almal baie goed ontvang is en reeds duisende kykers op YouTube gelok het. Al haar enkelsnitte is aanlyn beskikbaar en maak ook deel uit van haar album, MY SIMFONIE.


Behalwe vir Valeska se sangloopbaan en sangskool (Valeska Muller Vocal Academy), is sy net so entoesiasties oor sport en beplan om vanjaar aan die Two Oceans Maraton deel te neem. Sy het onlangs ook met gholflesse begin en hoop om haarself binnekort op die gholfbaan te bevind.

Valeska het oor die jare besef dat jy uniek moet wees as jy raakgesien wil word in die bedryf. Daarom werk sy hard om seker te maak dat elke liedjie en musiekvideo wat sy uitreik van uitsonderlike gehalte is. Haar nuutste vrystelling doen beslis hierdie reputasie gestand … nou kort sy net iemand om haar sukses mee te deel!

“Die liefde blom in die video en hy kan in my oë sien dat ek die res van my lewe saam met hom wil wees. Ek wil saam met hom verdwaal, na hom verlang en my liggie helder laat skyn met hom aan my sy,” sluit sy af.

Hierdie snit is beskikbaar op die MY SIMFONIE album en op digitale platforms: https://orcd.co/bgglpq9

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram, Twitter