fbpx
Melanie maak haar debuut met VERDWAAL

Melanie maak haar debuut met VERDWAAL

Melanie is vir seker ’n naam om dop te hou in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Sy het onlangs ’n beurs deur PACISA (Performing Arts Community in South Africa) ontvang om by COPA (Campus of the Performing Arts) musiek te studeer.

PACISA is die breinkind van Roelof Bouwer en Adri Mocke, en die pryse is so saamgestel dat dit die wenners help om te groei. Dié kompetisie kies jaarliks ’n deelnemer wat hulle finansieel help om aan die nasionale rondtes deel te neem.

Dié rooikop meisie van Ladysmith, en PACISA 2019 wenner, het haar debuutenkelsnit die afgelope week vrygestel by die Rockwood Theatre in Pretoria. Melanie het die uitdagende liedjies van Celine Dion en Shania Twain met gemak gesing voordat sy mense met haar enkelsnit, VERDWAAL, vermaak het.

Vir die snit het Melanie kragte saamgespan met bekende liedjieskrywer, Rudi Claase. VERDWAAL verwoord Melanie se eie liefdesteleurstelling met mense in ’n neutedop. “VERDWAAL gaan oor die liefde wat jy nog steeds wil maak werk, ten spyte van al die seer waardeur die persoon jou sit. Eintlik verloor jy jouself in dáái liefde, maar hoop steeds dat die persoon terug sal kom. Dis ’n pragtige kontemporêre lied,” sê sy.

Die liedjie lê die sangeres na aan die hart. Sy verduidelik: “Die lied maak ou wonde oop, maar in ’n positiewe manier, om weer te kan genees.”

Vir die meeste mense vir wie die liefde nie uitgewerk het nie, sal dié liedjie nommerpas wees.Ek wil ’n effek van genesing met my luisteraars deel,” sê sy verder. Melanie se enkelsnit wys dat liefde soms blind kan wees.

Die musiekvideo beeld nes die snit ’n kragtige boodskap uit – dit vertel die storie van liefde en om dit te verloor, maar ook hoe om sterker aan die ander kant uit te kom. “Ek hoop mense sal die emosie saam my ervaar wanneer hulle die video kyk,” verduidelik Melanie oor die musiekvideo wat verfilm is by die Rockwood Teater in Centurion. Roelof Bouwer van PACISA het hand bygesit tydens verfilming.

Melanie is beslis ’n jong talent met groot potensiaal. Sy is reeds van kleins af dol oor musiek en het ook ’n passie vir toneelspel.

Wyle Freddie Mercury is een van haar inspirasies, en sy sal graag saam met Roan Ash wil werk, sou sy die geleentheid kry. Vra jy haar uit oor haar musiekstyl, antwoord sy: “Ek het ’n sterk mezzosopraan stem en my eie styl wat uit verskeie genres bestaan.

Na haar deelname aan PACISA is sy reeds vyf maande doenig in die musiekbedryf. Die enkelsnit is tans beskikbaar op alle digitale platforms.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram