fbpx
Musikante herinner almal dat ware liefde nié gewelddadig is nie

Musikante herinner almal dat ware liefde nié gewelddadig is nie

Oor die afgelope paar dae is publisiteitsfoto’s en die omslag van die sanger en liedjieskrywer, Michelle Mountjoy, en bekende musikant, Hunter Kennedy, se nuwe enkelsnit aan die media vrygestel en dis nie ’n mooi prentjie nie. Dié beeldmateriaal, wat in samewerking met die TEARS-stigting saamgestel is, tref diep en dra die kragtige boodskap oor dat ware liefde nie gewelddadig is nie.

Die twee musikante reik op 25 November 2022 die liedjie, HIERDIE IS NIE LIEFDE NIE, uit ter ondersteuning van die 16 dae van Aktivisme-veldtog teen geweld op vroue en kinders, ’n jaarlikse Verenigde Nasies-inisiatief wat van 25 November tot 10 Desember plaasvind. Dié veldtog fokus op die bewusmaking van die negatiewe impak wat geslagsgebaseerde geweld, nie net op vroue en kinders het nie, maar ook op die samelewing.

Hierdie treffende lied, wat dié jong sanger en liedjieskrywer saam met Hunter en Fred den Hartog geskryf het, gaan oor wat liefde nié is nie.

“Ek kom uit ’n verhouding uit waarin ek mishandel is, maar gelukkig kon ek ontsnap,” deel Michelle. “Dit is vir my belangrik om vir diegene wat hulle in dieselfde situasie bevind te sê dat niemand dit verdien om mishandel te word onder die dekmantel van liefde nie.” Hunter beaam dié boodskap: “Die liedjie is geskryf vir mense wat in dieselfde situasie is as waarin Michelle was. Ons wil mense daaraan herinner dat ware liefde nie met geweld gepaard gaan nie.”

Hulle glo dat die liedjie sal aanklank vind by luisteraars omdat dit staan vir wat reg is. “Die liedjie moedig kritiese denke aan en is eerlik en sonder verskonings. Dit vra nie simpatie nie, maar smeek mense om oor te gaan tot aksie,” verduidelik Hunter.

Kyk die video hier

 HIERDIE IS NIE LIEFDE NIE is Michelle se vierde enkelsnit. Sy het naam gemaak nadat sy die realiteitsreeks, Wat Dit Vat Met Loki Rothman, in 2021 gewen het.

Sy en Hunter het dan ook op die stel van Wat Dit Vat ontmoet. “Nadat ek en Hunter saamgewerk en mekaar leer ken het, het ek geweet dat hy die perfekte pasmaat sou wees vir my liedjie. Nadat ek die idee aan hom voorgelê het en my storie met hom gedeel het, het hy dadelik ingestem. Dit was ’n groot voorreg om saam met hom en Fred te werk. Hunter se energie en dryfkrag is aansteeklik en dit was ’n plesier om hierdie projek saam met hom aan te pak,” sê Michelle.

HIERDIE IS NIE LIEFDE NIE word spesifiek op 25 November uitgereik om die TEARS-stigting se goeie werk te ondersteun tydens die 16 dae van Aktivisme-veldtog. Die TEARS-stigting, wat vanjaar sy tiende bestaansjaar vier, bied toegang tot krisisintervensie-, voorspraak-, berading- en voorkomingsopvoedingsdienste vir diegene wat geraak word deur gesinsgeweld, seksuele aanranding en seksuele mishandeling van kinders. Dit is in Johannesburg geleë en verskaf ’n nasionale diens wat 24/7, 365 dae per jaar funksioneer, en wat gratis is vir alle mense in Suid-Afrika.

“Michelle was gelukkig genoeg om uit ’n gewelddadige verhouding te ontsnap en is al vir die afgelope jaar ’n trotste ambassadeur van die TEARS-stigting. Ons begin nou met die 16 dae van Aktivisme-veldtog, waartydens ons mense aanmoedig om skenkings te maak, saam te gesels en bewusmaking te skep oor ons organisasie en dienste. Michelle se liedjie is ’n groot deel hiervan en sy werk nou saam met ons om vir hierdie saak ’n stem te gee,” sê die stigting se Tula Yapce.

Vir Hunter is dit ook ’n voorreg om saam met TEARS te werk. “Hulle pak ’n reuse taak aan en ek is baie beïndruk deur die wonderlike werk wat hulle doen. Ek dink dis ’n goeie idee om deel te wees van die 16 dae van Aktivisme. Daar is baie dinge wat moet verander en dit kan soms oorweldigend wees, maar al verander ons net een persoon se lewe, is dit ’n stap in die regte rigting.” 

Indien jy of iemand wat jy ken verkrag is of mishandle word, skakel, *134*7355# (Gratis) of kontak die TEARS-Stigting op 010 590 5920 (24/7).

HIERDIE IS NIE LIEFDE NIE is nou digitaal beskikbaar. Laai dit hier af: https://distrokid.com/hyperfollow/hunterkennedyandmichellemountjoy/hierdie-is-nie-liefde-nie

SOSIALE MEDIA

MICHELLE MOUNTJOY:
Facebook, Instagram

TEARS-STIGTING:
Instagram, Facebook, TikTok, LinkedIn, Twitter

Webwerf: www.tears.co.za