Neil Sandilands is “versigtig opgewonde” oor sy nuwe radio-enkelsnit wat handel oor ‘n poskaart vanaf sy Oupa Joe Sandilands

Neil Sandilands is “versigtig opgewonde” oor sy nuwe radio-enkelsnit wat handel oor ‘n poskaart vanaf sy Oupa Joe Sandilands

Ek is versigtig opgewonde oor die bekendstelling van hierdie liedjie.

Verlede jaar, September 2022, was ek in Sydney, Australië toe die liedjie kom aanklop het. Ek het ’n poskaart onthou wat in ons huis was, wat Oupa Joe Sandilands vir Ouma Nettie gestuur het ten tye van die Tweede Wêreldoorlog. Natuurlik was ons eietydse belewenis onthuts deur die moontlikheid van ’n Derde Wêreldoorlog. Ek verwys na die onstabiliteit wat die wêreld beleef het (en steeds beleef) met die situasie tussen die groot moonthede Rusland, die VSA en China rondom die Oekraïne vraagstuk.

Oupa was ’n tenkbestuurder vir die Suid-Afrikaanse troepe tydens die slag van Tobruk, Libië, 1942. Dié poskaart, nou vergeel deur tyd, was ’n foto van die piramides in Egipte en regs bo is daar ’n inleg van Oupa Joe met sy militêre baret en links bo, sekerlik die enigste foto wat Oupa van sy beminde, Ouma Nettie, gehad het. Moontlik het die bestuur van die operasie dit goedgedink om vir al die troepe so ’n poskaart te maak om aan hul geliefdes te stuur, want ek ken nog ’n persoon met ’n soortgelyke poskaart. 

Oupa Joe het nie die geleenthede gehad wat ek kon geniet met betrekking tot skool en geletterdheid nie, maar hy kon sy naam skryf: Josef Willem Sandilands. Ek dra sy name. Ek het gewonder wat hy graag sou wou skryf vir Ouma Nettie. ’n Gedig? ’n Liefdesverklaring? ’n Liedjie? Ek het gedink oor die hunkering na ongedeerde tuiskoms en vereniging met die mense wie jy lief het, die omgewing wat jy lief het, die taal en kultuur wat jy ken en lief het. Ek kon op ’n manier identifiseer.

Die tweede element wat ook van waarde is, met die skepping van hierdie liedjie, was ’n persoonlike belewenis ver van Suid-Afrika op die eiland van Kauai, in die Stille Oseaan. Ek was daar rondom 1997. Dit is letterlik die anderkant van die planeet. Die pad hou op by Ke’e strand. Dis nie menslik moontlik om verder te ry of verder weg van jou oorsprong, Randfontein, Suid-Afrika, te wees nie. Toe ek weer in die kar klim en daar wegry, het die gedagte by my posgevat, dat dit nie saakmaak of ek noord, oos, wes of suid bestuur nie, op ’n manier reis ek “huistoe”. Terug na oorsprong.

Met ons onlangse toer “Woorde en Akkoorde na die Noorde” het hierdie liedjie dit self begin uitsonder as een van die gunsteling liedjies vir die gehoor. Ek dink dis omdat daar universalisme aan die gedagte van tuiskoms, hunkering, verlange, en in mees eenvoudige terme, “huis” is.

HUISTOE kan hier gekry https://linktr.ee/neilsandilands

Die openingslyn is: “By Giza, in Egipte, kyk Josef in die lens…”

Ek deel graag HUISTOE

Neil Sandilands

By Giza in Egipte kyk Josef in die lens
Die poskaart na die Wes-Transvaal 
verwoord sy diepste wens 
As die oorlog eers verby is 
en die waansin van die mens
Klim ek weer Magaliesberg 
Skitterblink sikspens.

Ek kom huistoe 
Ek kom huistoe
Ek weet hoe om ’n tenk te dryf
Ek weet hoe om my naam te skryf
Ek kom huistoe


Kaapkruis een Desember 
op die bopunt van ’n duin 
Die branders en die trane rol oor die sellulêre sein 
Godsverskroeide aarde 
en ’n man se hart in puin 
Enkel stotterwoorde 
wat betekenis basuin 

Ek kom huistoe 
Ek kom huistoe
Miskien het ek te veel gesien 
Miskien het ek dit als verdien 
Ek kom huistoe 

In die Stille Oseaan se kleinste ver eiland 
Daar waar die pad ophou 
op Kauai se verste strand 
Verder kan ’n man dan nie, 
jy’s by die verste wand 
Ver van wie jou lief is, ver van hierdie land 

Ek kom huistoe
Ek kom huistoe 
Ek bring vir jou my ope hand 
Ek bring jou my verstand 
Ek kom huistoe 

Jona, seun van Amittae in die stad van Nineve 
’n Walvis het hom ingesluk, so lui mitologie 
As jy ooit by daai pad kom, 
moenie huiwer nie 
Van jouself kan jy nie weghol nie, 
dis ware woorde dié 

Ek kom huistoe
Ek kom huistoe
Miskien het ek dit als verbeel, 
Filistyne het die land gesteel 
Ek kom huistoe

Liriek: Neil Sandilands