fbpx
RAYNE – SKADUWEES

RAYNE – SKADUWEES

’n Splinternuwe enkelsnit van RAYNE is pas vrygestel en perfek om die jaar af te sluit met introspeksie en aanvaarding. SKADUWEES gaan mense opnuut na hulself laat kyk met die universele tema van skaduwees in elkeen se binnenste.

“Ek wil hê mense moet in hul kamers op SKADUWEES dans en ek wil met hierdie liedjie die vlam weer binne-in mense aansteek. Skaduwees moet mense krag gee,” het RAYNE vertel.

Dié Afrikaanse kunstenaar het vroeër vanjaar reuse-sukses met sy enkelsnit, Laat Dit Reën, behaal nadat dit binne een maand die nommer 1-posisie op vier verskillende radiostasies se ranglyste ingeneem het. Die musiekvideo vir Laat Dit Reën is binne die eerste maand na vrystelling ook meer as 30 000 kere op YouTube geniet.

Met sy nuwe enkelsnit, ’n dansliedjie met rock-elemente, wil hy dieper kwessies aanraak. Dit handel oor die oomblik wanneer jy jou lewe terugneem en vanuit die donker in die lig instap.

“Ons spandeer soveel van ons lewens om ander se gemak eerste te stel. Ons sal ons eie drome en begeertes op die agterste sitplek plaas omdat ons bang is vir wat ander sal dink – én dat dit hulle dalk ongemaklik sal laat voel,” het hy vertel.

Volgens hom is SKADUWEES ook persoonlik die lyn wat hy getrek het om te sê genoeg is genoeg.

“Ek gaan begin lewe vir myself –  dis hoogtyd dat die lig weer op ons skyn. Ons eie geluk is soveel werd en ander mense se opinies of gemak behoort nie in ons pad na geluk te staan nie. Ek wens ander wil hulself ook eerste stel,” het RAYNE gesê.

Skaduwees is deur RAYNE gepen en hy het vertel dit was ’n moeilike én bevryende proses gewees.

“Dit was so moeilik as gevolg van al die uitdagings wat Covid-19 tot gevolg gehad – veral die implikasies in die musiek- en vermaaklikheidsbedryf. Die hele vrystellingsproses was uitgerek weens onvoorkombare omstandighede. Ek is ook ’n onafhanklike kunstenaar en dra alles kostes self. Alles het nou uiteindelik uitgewerk en ek is so dankbaar,” het hy gesê.

RAYNE het vertel dat die lied se opname en die musiekvideo se verfilming hom laat voel het of hy weer al sy energie terug het.

Dis is ook juis daardie gevoel wat hulle deur die liedjie wou oordra met die doeltreffende gebruik van instrumente. 

“Ek sukkel al vir baie lank met selfbeeldprobleme en depressie en dís hoekom ek SKADUWEES geskryf het. Ek veg my hele lewe lank met verskeie soorte skaduwees,” het hy ernstig vertel.

SKADUWEES het RAYNE se selfvertroue ’n hupstoot gegee en dis juis hoekom dié liedjie hom so naa aan die hart lê.

“Dis baie anders as wat mense verwag en ek is so trots daarop.”

Die musiekvideo speel af in ’n fiktiewe wêreld – “Gemakstad” – waar individualisme en kreatiwiteit teen die wet is. Die video is RAYNE se abstrakte kommentaar oor die samelewing en sy ervaring van die Afrikaanse musiekbedryf.

“Almal wil altyd onsself in een of ander boksie druk sodat ons beter sal inpas en nie die status quo sal onstel nie, maar ons uniekheid brand helderder as enige lampskerm. Die musiekvideo verteenwoordig my persoonlike reis na vryheid en individualiteit,” het hy vertel.

RAYNE en sy ma, Linda Lotter, het ook self van die kostuums wat in dié musiekvideo gesien word, ontwerp en gemaak.

“Musiek was nog altyd in my bloed. Ek hou daarvan om mense gelukkig te maak en goed te laat voel, en dis ongelooflik dat ek dit deur my kuns kan doen,” het hy gesê.

RAYNE is as bestempel as Suid-Afrika se eie Adam Lambert en musiekliefhebbers kan uitsien na Skaduwees se musiekvideo wat teen die einde van die maand vrygestel word.

SKADUWEES is nou beskikbaar op alle musiekstromingsdienste.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram