fbpx
Reggie Peace – IS JY NCA?

Reggie Peace – IS JY NCA?

“Dit is ’n baie prettige liedjie, wat gemaak is om mense te laat dans,” sê Reggie Peace (Reginald Hufkie) oor die derde enkelsnit vanaf sy debuut-album, Nuwe Lewe. New Life.

Volgens dié talentvolle musikant, wat al meer as ’n dekade in die vermaakbedryf werk, gaan IS JY NCA? oor ’n groep vriende wat hulle beste klere aantrek en saam uitgaan om die aand te geniet.

“Die dansvloer is aan die brand wanneer die groep by die kuierplek aankom. Soos gewoonlik lei dit tot ’n danskompetisie waaraan hulle deelneem,” vertel hy oor dié kletsrym-nommertjie wat deur DJ Darkness (Calvin Botha) vervaardig is. “Tydens die kompetisie, vang ’n meisie die hoofkarakter se oog, maar sy verdwyn ongelukkig kort daarna en hulle kuier verder.”

Die musiekvideo is in Linden in Johannesburg deur Wesley West verfilm en beeld die basiese storie uit wat deur die lirieke vertel word. Al verskil is dat dit Reggie en ’n groep dansers is wat uitgaan om in die strate te gaan dans. “My karakter probeer ’n meisie oorreed om hom ’n kans te gee. Sy sê eers nee, maar later verander sy van plan. Dit is ’n ‘fun’ storie om by die gevoel van die liedjie te pas,” verduidelik dié nege-en-twintig-jarige ster van Schauderville in Port Elizabeth.

IS JY NCA? volg in die voetspore van enkelsnitte soos FrequencyDo It – PeacemakerHoekom?Kos Op Die Tafel (KODT)All That MattersBetterMoveThe Struggle is Over én African Queen wat hy saam met ander musikante vrygestel het. 

Wanneer hy nie musiek maak nie, hou hy ook sy lyf akteur en was hy al te sien in verskeie bekende reekse, waaronder Generations: The Legacy (Luke), Die Spreeus en Huis Lelieveld (Spanner).

Hy is tans besig om te skiet aan ’n nuwe komediereeks wat in April op kykNET begin wys en werk ook aan sy eerste rolprentdraaiboek. Sy broer, Roman, wat ook in sy musiekvideo te sien is, gaan ook binnekort saam met hom in ’n fliek verskyn.

Reggie het nog altyd hard gewerk om bo sy moeilike omstandighede uit te styg en is dankbaar vir elkeen wat sy loopbaan ondersteun.

IS JY NCA? is ’n moderne kletsrym-liedjie met ’n ritmiese aanslag, wat nog lank gaan koning kraai op die dansvloer.

Die liedjie is beskikbaar op sy album hier: https://distrokid.com/hyperfollow/reggiepeace/nuwe-lewenew-life

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram