fbpx
Reggie Peace MOVE met nuwe positiewe musiekvideo!

Reggie Peace MOVE met nuwe positiewe musiekvideo!

Reggie Peace, oftewel Reginald Hufkie, die gewilde Suid-Afrikaanse akteur, musikant, draaiboek- en liedjieskrywer het in 2019 amptelik begin naam maak. Hy was te sien in prominente rolle in die Silwerskermbekroonde kortfilm, Cowboy Dan (2018), Generations: The Legacy (Luke), Die Spreeus en Huis Lelieveld (Spanner). Dit was ook die jaar waarin sy solo-musiekloopbaan begin vlam vat het.

Maar, net ‘n jaar vroeër het hy deur van die donkerste tye in sy lewe gegaan en getwyfel of hy in die bedryf moes wees.  Dit is tóé dat hy MOVE geskryf het om homself, en ander, te motiveer om nie op te gee nie en sy passie en talent uit te leef.

Dié liedjie, wat moderne Pop- met interessante Funk-elemente kombineer, is deur Calvin Botha (DJ Darkness) vervaardig en is die sewende oorspronklike enkelsnitvrystelling uit Reggie se eie pen. Sy vorige vrystellings, FrequencyDo It – PeacemakerHoekom?Kos Op Die Tafel (KODT)All That Matters en Better, is almal baie goed ontvang.

En nou is dit tyd om die musiekvideo bekend te stel.  “DJ Darkness, die vervaardiger van die liedjie, is blind. Hy beweeg op sy ritme deur die liedjie te vervaardig, maar in die musiekvideo sien ons hoe hy die ritme versprei na almal. Die musiek bring almal saam, maar almal dans hulle eie dans,” vertel Reggie.

JT Ferreira, wat onlangs die groep Jan, Jan, Jan se gewilde musiekvideo vervaardig het, was aan die stuur van sake en die beeldmateriaal is in Melville verfilm. “Ons huis- die Echo Jeugbedieningshuis – is gevra om as ’n gemeenskap ’n musiekvideo te maak wat almal insluit. DJ Darkness volg sy ritme deur die musiek te vervaardig en dan versprei hy, ek en ’n paar ander vriende die musiek na die res. Dit is baie gefokus op gemeenskap en hoe ons kan saam leef as Suid-Afrikaners.”

Kyk die musiekvideo hier

Reggie Peace en Lizz Meiring se verhoogstuk, Die Atleet, sou ook hierdie jaar by die KKNK te sien gewees het, maar is ongelukkig as gevolg van die COVID-19 krisis gekanselleer.

Reginald het in Schauderville, Port Elizabeth, grootgeword. Nadat hy as tiener albei sy ouers verloor het aan Tuberkulose, is hy en sy broers in die sorg van ’n kinderhuis geplaas. Hy woon tans in die Echo Jeugbedieningshuis in Melville, Johannesburg, waar hy op sy beurt weer probeer om ’n verskil in ander mense se lewens te maak. 

Musiek was nog altyd deel van wie hy is en die kunstenaar sien uit daarna om meer van homself met die land te deel. Met MOVE oortref hy nie net hierdie doelwit nie, maar kry hy dit reg om hoop te bring vir elkeen wat hard werk om hulle regmatige plek in die samelewing te vind.

Die liedjie is op alle digitale platforms hier beskikbaar: Kliek hier 

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram