fbpx
Renier Greeff – STOOMTREIN

Renier Greeff – STOOMTREIN

Dié Kaapse-sanger Renier Greeff se paaie het al baie met die van eensaamheid gekruis en vergelyk die lewe met die van `n STOOMTREIN in sy nuutste enkelsnit. Renier Greeff verwys spesifiek na vriende wat ontydig en voortydig uit sy lewe verdwyn het, en ook die rouproses wat met verlore vriendskappe gepaard gaan.

Renier Greeff Ek sal `n leeftyd vir jou wag

Dit is ook waarom die enkelsnit STOOMTREIN vanaf sy debuutalbum Ek sal ‘n leeftyd vir jou wag watin samewerking met Deon van der Merwe (van Touch of Class) en Arri Oppermanneergepen is, opgedra is “aan die pêlle vir wie ek omgee het en lief was, maar met wie ek mettertyd kontak verloor het” sê Renier.

STOOMTREIN is dus ook ‘n metafoor wat die mens se lewenspad, en dalk ook vriendskapspad,  uitbeeld. Die metafoor van verlies word sterk verwoord in die liedjie se koorgedeelte: “Soos die tyd verbygaan in die onbekendheid, loop ons almal se pad op dieselfde tyd. Die stasies raak nou leeg soos jy in die lewe op beweeg. En probeer verstaan waarheen dit is waarheen jy wil gaan.”

Moet tog nie dink dié liedjie is ‘n treurlied nie – dit is half ‘n viering van die lewe (en dalk ook van die rouproses), die stasies waarop ons wag en dan op die STOOMTREIN klim na die onbekende.  “Ek is gelukkig nie bang vir die onbekende nie,” lag Renier, God het my pad klaar vir my uitgelê. Hoe kan ek dus bang wees?”

Renier vertel dat STOOMTREIN ook ‘n diep figuurlike betekenis het. “Ek het drie jaar gelede eers professioneel begin sing, maar het my stem al sedert my laerskooldae laat hoor. Ek is baie terugghou in my musiekloopbaan, dit is asof daar buite-elemente was wat my nie ‘n musiekloopbaan gegun het nie. Ek het toe besef dat dit nie die stasies (of jou vriendekring) is wat saak maak nie, maar die eindpunt – jou bestemming.”

Renier het ‘ n sterk pop-rock aanslag en STOOMTREIN vertel ‘n storie. Dit het ‘n lekker ritme wat in die luisteraar se kop gaan vassteek. “My liedjies vertel diep stories oor dinge wat ek deurgaans ervaar. Luisteraars kan dus met die lirieke vereenselwig, want hulle het dalk ook al sulke tipe ervarings gehad,” sê Renier.

STOOMTREIN is ’n Afrikaanse vieringsballade wat Renier se diep Skotse whisky-stem soos ‘n goed gelooide velskoen pas. Dié enkelsnit is een van dáárdie liedjies wat jou hoendervleis gee wanneer jy dit vir die eerste keer hoor.  

“Daar is baie mense wat met STOOMTREIN kan vereenselwig omdat dit oor verlore en ook nuwe vriendskappe handel. Maar teen die einde van die dag, kom ‘n mens tot die besef dat jy tog op die regte pad is, en dat jou eindbestemming presies die plek is waar jy moet wees,” sê hy.

Renier is die pa van twee dogtertjies, onderskeidelik een- en sesjaar oud, en hulle is pa, Renier,  se grootste ondersteuners. “My sesjarige dogtertjie ken al my lirieke uit haar kop uit. En al wat ons in my motor mag luister is na my CD en die van Demi-Lee Moore,” lag hy.

Hierdie talentvolle kunstenaar (en kitaarspeler) het nog altyd ’n diep waardering  vir betekenisvolle musiek gehad en hou nie daarvan om borrelgomlirieke te skryf nie – dit is ook waarom hy vir Deon en Arrie by die skryfproses betrek het.

Renier, met sy Whisky-stem, lekker luister lirieke en warm verhoogpersoonlikheid, het dit reggekry om met passie en deursettingsvermoë vir homself ’n loopbaan in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf oop te kerf.

Deon van der Merwe van Touch of Class het die verwerking van STOOMTREIN gedoen en die musikale produksie van die enkelsnit is uitstekend.

As STOOMTREIN enigsins ’n aanduiding is van wat om te verwag, is Renier ‘n plek op die groot musiekverhoë in ons land gewaarborg. Die liedjie bestaan uit die regte kombinasie van musikale bestanddele om dit op die treffersparade van radiostasies te laat boer.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram