fbpx
Gerduan Kemp sê die liefde is jou SESDE SINTUIG

Gerduan Kemp sê die liefde is jou SESDE SINTUIG

Dit is reeds ’n paar maande sedert hy DAGBREEKDROMER, maar Gerduan Kemp is terug en beter as ooit met sy nuutste enkelsnit – SESDE SINTUIG. Die kunstenaar met sy kenmerkende diep stem se nuwe liedjie, SESDE SINTUIG, gaan oor die opwinding van verlief-wees en hoe liefde eintlik soos ’n ekstra sintuig kan wees. Verhoudings was nog altyd baie belangrik vir dié drie-en-twintigjarige sanger en dis ook die inspirasie agter hierdie opgewekte snit.

Gerduan Kemp Sesde Sintuig
Krediet: Willem Botha

SESDE SINTUIG vertel hoe liefde jou soms van die werklikheid kan laat vergeet. Liefde het ook die krag om ’n mens te laat vergeet van die hartseer in die verlede. In die liedjie verwys dit na hoe jou sesde sintuig (liefde) eintlik al is wat jy nodig het,” verduidelik die sanger, wat meen dat almal hierby sal aanklank vind.

Volgens Gerduan is die doel van dié snit om luisteraars te laat goed voel en te herinner aan hoe liefde dit soms regkry om jou sinne te verdoof. “Liefde is iets wat elke persoon iewers in hulle lewe ervaar en hierdie liedjie beskryf daardie gevoel van liefde wat ons soms sukkel om in woorde te sit,” meen hy. “Daar is soveel liedjies daar buite wat handel oor die liefde, maar ek dink dat mense juis van hierdie een gaan hou omdat dit ’n nuwe invalshoek gebruik om liefde, en die gevoel daarvan, te beskryf.”

Die liedjie, met sy moderne Pop-aanslag, is deur Johan Oberholzer geskryf. Alhoewel hy self ’n kranige liedjieskrywer is, het Gerduan gevoel dat hy ’n vars perspektief nodig het vir sy nuutste enkelsnit. “My eerste drie liedjies kom uit my eie pen, maar ek het gevoel dat die tyd reg was om die hulp van een van die land se bestes in te roep. Ek is al vir lank ’n bewonderaar van sy werk en dis ’n voorreg om sy musiek te kan sing.”

SESDE SINTUIG volg in die suksesvolle voetspore van sy vorige drie enkelsnitte, Vergewe my as ekSlapelose Nag en Dagbreekdrome, wat baie goed ontvang is. Eersgenoemde se musiekvideo het reeds meer as 12 000 kyke op YouTube gehad.

Gerduan – ’n Bloemfonteiner in murg-en-been – was al van kleins af lief vir sing en optree en neem al van graad twee af kitaarlesse. Hy het egter eers in sy finale jaar op universiteit, waar hy besig was om Kommunikasiemedia en Joernalistiek te studeer, besluit om ’n voltydse loopbaan van musiek te maak.

“Ek het besluit om eerder te gaan studeer, omdat ek nie toe ek in matriek was gedink het dat ek wel ’n voltydse sanger sou kon word nie. Ek het in my finale jaar besluit dat ek wel my droom gaan najaag en nadat ek my studies voltooi het, ’n voltydse sanger gaan word,” sê hy.

Alhoewel hy al sy hele lewe lank in musiek belangstel, meen hy dat 2012 die eerste amptelike tree in sy musiekloopbaan was, toe hy begin het met sanglesse. Sedertdien het hy al die verhoog met verskeie groot name gedeel en by talle feeste en funksies opgetree.

Die sanger verklap dat hy baie van musiek hou met dieper betekenis en dat sy eie liedjies geïnspireer word deur gebeure in sy eie lewe of uit die lewens van diegene na aan hom: “Ek streef altyd daarna om ’n storie met my liedjies te vertel, maar tog om dit op so ’n manier te skryf sodat almal daarmee kan vereenselwig.”

Gerduan meen dat Niall Horan, Elandré en Daughtry almal ’n groot invloed op sy eie musiekstyl gehad het en dat hy nog graag eendag saam met Elandré en Tarryn Lamb liedjies sou wou opneem. Wanneer hy nie op die verhoog is nie, bestuur hy sy eie foto- en videografiebesigheid – GK Kreativ Productions – en meen dat hy dit voltyds sou doen as hy nie ’n musikant kon wees nie.

Die musiekbedryf het hom geleer dat daar ’n plekkie is vir almal in die musiekson en dat jy jou drome kan bewaarheid as jy bereid is om jou oë toe te knyp en die eerste tree te gee. Daarom is hy tans besig met die opname van sy eerste vollengte album, waarmee hy in 2021 die volgende fase van sy droom wil bewaarheid.

Om sy talente en gawes ten volle te gebruik, is vir Gerduan Kemp baie belangrik. Met die vrystelling van SESDE SINTUIG stel hy nie net een van sy grootste vaardighede ten toon nie, maar bewys hy net weer dat daar voorwaar ’n baie belowende toekoms op hom wag in die musiekbedryf.

SESDE SINTUIG sal vanaf Vrydag 16 Oktober 2020 beskikbaar wees op alle digitale platforms.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook, Instagram, YouTube

LEES MEER

Gerduan Kemp stel DAGBREEKDROME akoestiese vry

Vergewe my as ek – Gerduan Kemp se debuut enkelsnit vandag vrygestel.

Gerduan Kemp se debuut enkelsnit is binnekort hier!

One thought on “Gerduan Kemp sê die liefde is jou SESDE SINTUIG

Comments are closed.