fbpx
Gerduan Kemp – LANGPAD NA MÔRE

Gerduan Kemp – LANGPAD NA MÔRE

“Soms moet jy ou bagasie agterlaat om nuwe hoofstukke in jou lewe te bereik,” sê Gerduan Kemp oor die betekenis agter sy splinternuwe enkelsnit, LANGPAD NA MÔRE, wat hy saam met ADAM se Hugo Ludik en Rubber Duc se Nick Jordaan geskryf het.

Hierdie lekkerluister Afrikaanse pop-rocksnit is geïnspireer deur dié veelsydige Bloemfonteinse musikant se moeilike besluit om die Rosestad agter te laat vir ’n nuwe en opwindende toekoms in Pretoria.

gerduan kemp langpad na more feature plectrum

“Ek is iemand wat baie van my emosies in my liedjies oordra. Hierdie een lê my juis na aan die hart omdat dit die gevoelens wat ek ervaar het toe ek my tuisdorp moes agterlaat vir die stad weergee. My doel is ook om die liedjie te gebruik om ander mense te bemoedig om nie groot geleenthede deur hulle vingers te laat glip omdat die keuses wat daarmee saam gaan dalk angswekkend kan wees nie,” verduidelik hy. “Die liedjie het mooi lirieke, waarby almal sal aanklank vind en die wysie sal jou uitnooi om saam te sing en dit kliphard te luister in jou kar.”

LANGPAD NA MÔRE is die tweede enkelsnit vanaf sy debuut-album, Sesde Sintuig, wat op 8 Oktober 2021 beskikbaar sal wees en volgens die gesoute ore in die musiekbedryf wat dit reeds gehoor het gaan dit iets wees wat selfs die kieskeurigste oor tevrede sal stel. “Al die liedjies is geïnspireer deur goed wat in my lewe gebeur het. Dit vertel basies die storie van my lewe tot dusver en hoe dit wat al in my lewe gebeur het my gevorm het en gebring het tot waar ek vandag is,” deel Gerduan. 

“Ek was betrokke by die skryf van nege van die tien liedjies en het die voorreg gehad om saam met talentvolle liedjieskrywers te werk soos Hugo Ludik, Nick Jordaan, Riaan Benadé, Petrus van Wyk, Johan Oberholzer en Emil Robert. Die album het lank gevat om op te neem en ek is opgewonde om te sien wat die publiek van my nuwe musiek gaan dink.”

Die titelsnit van die album is verlede jaar uitgereik. Dit was dadelik baie gewild en het bo-aan die treffersparades van verskeie radiostasies gekuier, terwyl die hoendervleismooi musiekvideo reeds deur meer as 26 000 mense op YouTube gekyk is.

“Die terugvoer op my vorige enkelsnit was ongelooflik goed. Die lied kan steeds op verskeie radiostasies regoor die land gehoor word en daar is gereeld mense wat vir my sê dat dit hulle gunsteling-vasdansliedjie is,” vertel hy oor hierdie hoogtepunt in sy loopbaan.

Gerduan, wat sy eie foto- en videografiebesigheid – GK Kreativ Productions – bestuur wanneer hy nie op die verhoog is nie, sing al vandat hy klein is en het in graad twee begin kitaarlesse neem. Hy het egter eers in sy finale jaar op universiteit, waar hy besig was om Kommunikasiemedia en Joernalistiek te studeer, besluit om ’n voltydse loopbaan van musiek te maak. Sedertdien het hy al die verhoog met verskeie groot name gedeel en by talle feeste en funksies opgetree.

Hy wil graag hê dat sy musiek mense se harte moet raak en met LANGPAD NA MÔRE oortref hy nie net hierdie doelwit nie, maar kry hy dit ook reg om bewonderaars met opgewondenheid te laat uitsien na al die opwindende dinge wat hy vir die toekoms beplan. 

LANGPAD NA MȎRE is nou op alle digitale platforms beskikbaar.  

Laai die enkelsnit hier af: https://lnk.to/LangpadNaMoreMB

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook, Instagram, YouTube

LEES MEER

Gerduan Kemp bring musiekvideo vir SESDE SINTUIG.

Gerduan Kemp sê die liefde is jou SESDE SINTUIG

Gerduan Kemp stel DAGBREEKDROME akoestiese vry

Vergewe my as ek – Gerduan Kemp se debuut enkelsnit vandag vrygestel.

Gerduan Kemp se debuut enkelsnit is binnekort hier!