fbpx
4 Eva Young Band– Net ’n kind

4 Eva Young Band– Net ’n kind

Die 4 Eva Young Band, wat amptelik dié jongste groep in die land is, het pas hulle eerste oorspronklike Afrikaanse enkelsnit, EK IS NET ’N KIND vrygestel, en dié snit is ’n borrelgom kinderplesier waarby nié net ouers nie, maar ook kinders sal aanklank vind.

In ’n neutedop; almal wat nog nie heeltemal van “die dinge van ’n kind” ontslae geraak het nie, sal sommer ’n ou-skuur plaasdans doen as hulle na die liedjie luister.

Dit is eintlik ’n nostalgiese onthou-liedjie van lang somersdae op oupa en ouma se plaas, dae van kettie skiet en “’n mielie of twee gaan steel.”

Die titel van die snit is ook heel gepas, want die vier kinders se ouderdomme wissel tussen 9 en 11 en boonop is die kleingoed ook instrumentale wonderkinders, maar gelukkig is hulle kindervoetjies plat-op-die-aarde.

Ruben Herbst (10) bespeel die baskitaar amper net so goed soos Suid-Afrika se voorste baskitaarspeler Schalk Joubert. En as dáárdie vingers so liefkosend die regte akkoorde druk, word enige ouer se hart sommer week. Die res van die groep bestaan CaitieRock (11) en Johan van Rooyen (11), wat beide die voorsangers van die groep is. Johan speel ook kitaar. Zandri Bezuidenhout (9), wat al amper net so goed soos ons eie Ghapi is, is die groep se drommer.

Dié groep het sowat drie maande gelede hul toetrede tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gemaak met SUNNY DAY wat uitstekend op plaaslike en nasionale radiostasies gevaar het. Die enkelsnit is vergelyk met ’n warm sonnetjie wat op ’n wintersdag skyn en die kinders het bykans onmiddellik “Walt Disney-kanaal status” in hul onderskeie omgewings en skole gekry.

Drickus Bezuidenhout van Mergemusiek – hy is toevallig ook die talentvolle Zandri se pa – het SUNNY DAY geskryf en vervaardig – maar met EK IS NET ’N KIND het het hy presies oor die regte musieksnare gestreel. Asof hy besef het dat ons herinneringe nodig het om aan vas te klou. “Die liedjie handel oor hoe om so lank as moontlik kind te bly. Om vlieërs te vlieg, om met ketties te skiet en kleilat te gooi. Om kind te wees, en pret te hê. Die liedjie tower ’n utopiese plaasprentjie op waar kinders nog op die trekker kan ry en die veld geniet,” vertel Drickus wat “in sy hart nog ’n regte plaasseun is.”

Drickus verstaan die hart van ’n kind, ’n diep verstaan wat ook weerklank in die koorgedeelte vind. “Want die tyd vlieg so gou verby. Solank as wat ek kind bly. Met glinster in my oë, sal ek bly lag. Op die plaas kry ek nuwe krag.”

EK IS NET ’N KIND is ’n modern pop-goedvoelliedjie wat die kinders se stemme goed pas. Dit is ’n bekoorlike liedjie wat net op die regte tyd – begin lente – uitgereik word. Dit beloof om ’n glans-in-die-oog te bring.   Musiekkenners voorspel ’n wonderlike toekoms vir die kinders en ons hoop dat hulle sal voort huppel op hul sonskynmusiekpad.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram