RNK – Oppie Langpad

RNK – Oppie Langpad

Reinhard en Karin Herbst van die duo-groep RNK het die nuwe jaar baldadig binnegeplons met ’n pop-rock enkelsnit, OPPIE LANGPAD, wat jou sommer ’n huppel in jou liefdesrieldans gaan gee.

OPPIE LANGPAD neem jou op ’n teerpadtoer – uit die vervloë dae –  toe ’n kêrel nog kilometers moes aflê om by die nooi van sy hart te gaan kuier, dan dalk net ’n soen of twee steel voordat haar pa uit die slaapkamer grom, en hy dan maar weer al die pad moet terug ry na sy huis toe.

Dit is ’n onthouliedjie – die goeie ou dae toe ’n jong man nog sy motor langs die rivier kon parkeer en oor “dietjies en datjies” gesels of “lekker vry in die pa se plaasskuur.”

Reinhard en Karin is al langer as drie dekades ’n paartjie. Om dié rede is hulle ook ’n perfekte sangpaar; hulle verstaan mekaar se geite en streke, en musiekgewys is hulle ook ’n pasknap kombinasie.

Tydens hulle optredes spot Reinhard  al té lekker dat dit hy wat al sy petrol moes uitry agter Karin aan. Waarop Karin dan reageer: “Ek het na ons wittebroodbestemming bestuur en jou ook oor die drumpel gedra.”

RNK het in 2020 met die enkelsnit ALLES VIR MY gedebuteer. Sedertdien het hulle nog vier enkelsnitte geskryf en vrygestel. Met die vrystelling van elke enkelsnit het hulle nuwe aanhangers bygekry.    

OPPIE LANGPAD is hulle eie pennevrug en met dié snit het hulle net weer bewys dat hulle meesters van die liriek is.

Die lirieke skilder ’n prentjie; die luisteraar kan sommer sien “hoe die kêrel, net voor die son sak, oppie langpad ry.”

Die prentjie word verder ingekleur deur die musikale uitnemendheid van onder andere Vinnie Henrico op die dromme, Denny Lalloulete op die baskitaar, Brendon Ross op die saksofoon en Austim Hulme op die elektriese kitaar. Voeg die uitstekende musiekvervaardiging van Reinhard en Drickus Bezuidenhout van Merge Music en die finale vermenging van Tertius Human by, en die eindproduk is soos een van Cadbury se sjokoladestafies; soet op die tong en ’n vuurwarm gevoel op die krop van die maag.  

RNK  het ook die afgelope Sondag die musiekvideo van OPPIE LANGPAD op hulle tuisdorp, Meyerton, bekendgestel. Danie Pretorius het die musiekvideo vervaardig en vertel die storie van hoe mans hulle vroue probeer beïndruk en al waarna die vroue eintlik op soek is, is ware liefde. Die musiekvideo sal ook eersdaags op YouTube beskikbaar wees. Reinhard en Karin is ’n langtermynbelegging in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Hulle verval nooit in dieselfde musiekpatroon nie en elke enkelsnit is ’n verrassing.

SOSIALEMEDIA

Facebook