fbpx
Rooibos & Wijn – MEGAN

Rooibos & Wijn – MEGAN

Rooibos & Wijn is terug met ‘n nuwe EP, die keer, die lirieke dieper as ooit te vore. Megan, die opvolg lied van die debuut enkelsnit, Sonskyn Kind wat in Mei 2021 vrygestel was en vele opslae gemaak het, vertel ‘n verhaal van liefde en deernis en laat die luisteraar die nostalgie proe.

“Ons het altyd in haar kamer gesit, musiek ontdek, wyn gedrink en gesels. Ek en sy het eendag gelê en gefilosofeer, waar ek  vir haar vertel wat my idee van ware liefde is as twee mense meer vir mekaar omgee as vir hulself, kort daarna het sy gesê ek moet dalk ophou om so hard te soek, dis dalk reg voor my.” vertel Jean- Pierre, hoofsanger en skrywer van Rooibos & Wijn.

“Ek was vir ‘n geruime tyd verlief op haar en het eendag besluit sy moét weet. Sy was in ‘n lang aan-af verhouding. Ek skryf toe ‘n onvoltooide lied oor haar klaar, sien haar weer en sing vir Megan haar liedjie vir die eerste keer. My poging om haar hart te wen het ongelukkig nie in my guns gedraai nie. Hierdie is nie ‘n movie nie.” voeg van Zyl met ‘n sagtheid in sy stem by.

Elke kers smelt tot op die blaker, maar onthou net die sterre dans vir altyd – met dié boodskap aan Megan, na die afsterwe van ‘n grootouer, het van Zyl besef dat dié woorde nie net van toepassing op ons geleende tyd hier op aarde is nie, maar ook op ware liefde.

“Ek het gevoel die woorde is baie relevant en dít word toe die eerste lirieke vir Megan. “ vertel hy verder.

Rou en diep emosies word vasgevang deur Jean-Pierre se diep stem. Megan gaan beslis ‘n paar hartsnare roer.

In 2019 was die opname gedoen by Manley Studios saam met hoof kitaarspeler, Andre Visagie, drommer ,Freddy van Staden en pianis, Wilhelm Davel. Hierdie jaar het ‘n inleiding film projek saam met rolprent maker , Abel Knobel en Zelia Wolmarans wat die rol van die muse gespeel het, gevolg.

“Dit was nogals moeilik om aan die opname  te werk en die moed te kry om dit te deel. My storie oor haar is maar ‘n onvoltooide skildery.  ” sluit Jean-Pierre af.

MEGAN is van vandag af beskikbaar op alle digitale mediaplatforms.

Soos gepen in die inleiding van Megan:

My Sonskyn  kind

ek het min van jou geproe en veel oor jou geskryf

dit is tyd dat die wêreld hoor

jou bloed is wyn

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram