Ruan Wessels se gedigte-album, DRONK & DANIG

Ruan Wessels se gedigte-album, DRONK & DANIG

ruan wessels dronk en danig cover

Ruan Wessels se DRONK & DANIG is die eerste van sy soort in die land en is baie meer as net ’n gewone bundel poësie… alhoewel dit ook in boekformaat beskikbaar is vir diegene wat dit so verkies.

Ruan het in Roodepoort en Krugersdorp grootgeword. Hy is die jongste van drie kinders en was ’n kranige krieketspeler op skool. Dié drie-en-twintigjarige werk al dertien jaar in die vermaakbedryf en het bekendheid verwerf vir sy rol as Morné Gericke in die gewilde kykNET-sepie, Binnelanders, en sy hoofrol in die tienerfliek, Hoofmeisie.

Ruan Wessels weet al van jongs af hoe om gehore se harte te raak met puik toneelspel. Nóú gaan hy dieselfde doen, maar hierdie keer met diep, betekenisvolle strofes uit sy eie pen.

Dié veelsydige akteur, wat bekend is vir rolle in Hoofmeisie, Erfsondes, Spoorloos, Jou Romeo en meer, is ook ’n digter van formaat en het besluit om ’n opwindende projek aan te pak om sy gedagtes op ’n baie unieke manier aan die publiek oor te dra en só ’n platform vir sy digkuns te skep.

DRONK & DANIG is die eerste van sy soort in die land en is baie meer as net ’n gewone bundel poësie… alhoewel dit ook in boekformaat beskikbaar is vir diegene wat dit so verkies.

Dit is ’n album vol boeiende gedigte wat, deur Ruan self, voorgedra word met spesiaal-gekomponeerde musiek in die agtergrond om ’n treffende atmosfeer – of ’n ‘vibe’ soos hy dit noem – te skep.

“In vandag se tyd sal jonger mense eerder na iets luister, veral omdat gedigte persoonlik is. Ek dink as ’n mens daarmee identifiseer en dit vir jou persoonlik raak, is dit net anders om dit direk uit die skrywer se mond te hoor, in plaas daarvan om dit op papier te lees,” verduidelik hy. “Die wonderlike span by Muse Studios het my gehelp met die musiek. Hulle was ook betrokke met die eerste gedig wat ek omtrent ’n jaar terug vrygestel het, met die naam Ongeduldige Kuns.”

Net soos met die eerste een, gaan verskeie ander gedigte ook visueel vrygestel word met swart-en-wit-foto’s wat hy self geneem het. “Die foto’s sluit meestal by die gedigte aan, maar dit is – net soos die video’s – oop vir interpretasie,” sê Ruan, wat verklap dat Kabous Verwoed se album, Beenkamers en Gange, kletsrym en Ben Howard se musiek hierdie projek geïnspireer het.

“Ek het begin gedigte skryf toe ek in matriek was. Ek onthou nou nog hoe diep Ben Howard se musiek, en hoe hy dinge verduidelik, my getref het. Dieselfde inspirasie het my met kletsrym getref en ek het gehou van die manier hoe dit met woorde speel en dinge verduidelik, sonder om baie te sê,” vertel die akteur.

Ruan het in Roodepoort en Krugersdorp grootgeword. Hy is die jongste van drie kinders en was ’n kranige krieketspeler op skool. Dié drie-en-twintigjarige werk al dertien jaar in die vermaakbedryf en het bekendheid verwerf vir sy rol as Morné Gericke in die gewilde kykNET-sepie, Binnelanders, en sy hoofrol in die tienerfliek, Hoofmeisie.

Wanneer hy nie op stel is of besig is om te skryf nie, ry hy graag skaatsplank en geniet hy dit om foto’s te neem van sy omgewing. Hy het groot bewondering vir akteurs soos Edwin van der Walt, Elani Dekker en Dawid Minnaar en put inspirasie vir sy skryfwerk uit musiek en gebeurtenisse uit sy eie lewe.

DRONK & DANIG dra hy op aan die vriend wat saam met hom gehelp bou het aan die oorspronklik idee vir hierdie besonderse projek: “Ek en hy sou oorspronklik alles saam gedoen het, maar hy het PE toe getrek. Later het ek besluit om voort te gaan met die planne en die eerste snit op die album, is ook die eerste gedig wat ons saam opgeneem het om ’n gevoel te kry vir wat ons wil doen. Ek dink mense sal daarvan hou omdat dit oorspronklik en eerlik is. Dis ook ’n  ‘vibe’.”

Die digbundel, wat hy sien as ’n “liriekboek’ vir die album, kan bestel word by Ruan Wessels deur vir hom ‘n direkte boodskap te stuur via sy Instagram-profiel: @ruanwessels08

Die album is aanlyn beskikbaar by:

https://music.youtube.com/playlist?list=OLAK5uy_n8WmyGtY5HNTWlRmK_TZTmurclkVorLAo&feature=share

SOSIALE MEDIA:

Facebook, Instagram, Twitter, YouTube