fbpx
Ruth se musiek gaan waar jy ook gaan.

Ruth se musiek gaan waar jy ook gaan.

Meeste mense sal saamstem dat musiek ‘n ander manier is waarop ons kommunikeer.  Minder menses al sê dat dit iets is wat jy saam met jou neem.  Dit is asof dit kies om by jou te bly.  Mens kan dit amper verstaan met die woorde van Rut aan Naomi in die Bybel: “Waar u gaan, sal ek gaan”.  Dit kleef jou aan.

Hierdie is die gevoel wat by mens opkom wanneer jy na die musikant Ruth se musiek luister.  Dit is musiek wat nie uit ‘n gedagte alleen gebore word nie, maar vanuit ‘n oortuiging.

“Ek kan myself nie ‘n lewe sonder musiek indink nie.”, vertel die ma en vrou van Pretoria as jy haar vra wat sy sou word as sy nie in die musiekbedryf was nie.

Rozanne Kahts, beter bekend as Ruth, verduidelik dat Ruth nie ‘n persona is nie, maar eerder ‘n plek waar sy haar gedagtes deur skrywes en musiek met vroue kan deel.  Sy kry hier die kans om vroue wat deur worstelinge moes gaan te inspireer en weer hoop by hulle tuis te bring.

“Die rykdom, skoonheid en lewe wat ek in sulke tye van swaar ontdek het is wat ek deur musiek met ander wil deel. Ek wil lig en hoop vir elkeen wat dors na vaste grond in ‘n toenemend ontstuimige wêreld van verandering gee.”

Rozanne Kahts is gebore in Pretoria en woon haar hele lewe lank nog hier.  Bedags is hou sy haar besig met adminwerk en doen grafiese-onwerp sowel as sosialemediabestuur vir hul eie besighede.

Sy is ‘n ma en vrou. Vanjaar vier sy en haar man hul 10-jaar huweliksherdenking. Oor naweke maak hulle saam musiek en speel gereeld by troues.

Alhoewel sy ‘n BSc graad in Mensfisiologie, Hoër onderwys diploma en sertifikaat vir webontwerp agter haar naam het, verduidelik sy dat sy nog altyd ‘n buitengewone liefde vir musiek het. “Ek onthou dit so goed soos gister hoe ek in die klas sou sit, by die venster sou uitstaar en wens dat ek voor die klavier kon sit en musiekmaak.”

Sy het reeds op die jonge ouderdom van 17 haar eerste liedjie geskryf en sit vandag met leêrs wat vol oorspronklike musiek is en ‘n hartsbegeerte om dit met ander te deel.  “Ek wil die mooi wat ek daarin ontdek het met ander deel.”

Ruth se eerste album, IN JOU OË, is in 2017 uitgereik en kan beskryf word as ‘n minimalistiese, akoestiese produksie van liefdestories.

Met haar nuwe lied, GOD GAAN VOOR ONS UIT, verseker sy die luisteraar dat jy jouself nie oor more moet bekommer nie.

“Dit is ‘n lied oor die hoop wat in more lê al staan ons vandag in donker en onsekere omstandighede voor berge wat onmoontlik lyk om uit te klim.”

GOD GAAN VOOR ONS UIT is geskryf deur Ruth en vervaardig deur haar man Werner Kahts en bring ‘n vars popklank na Christelike kontemporêre Afrikaanse musiek.

Haar musiek word geïnspireer deur kunstenaars soos Niemand, Riana Nel, Blanca, Riley Clemmons, Needtobreathe en Switchfoot om ‘n paar te noem.

GOD GAAN VOOR ONS UIT is nie die laaste lied vir Ruth nie en sy beplan om binnekort nog 2 enkelsnitte uit te reik. 

Ruth bind haarself nie aan ‘n genre en glo eerder dat dit bepaal word deur die gehoor wat jy wil bereik.

Ruth se musiek kan op alle digitale musiek platforms gehoor word.  Besoek ook gerus haar webblad by www.ruthmusic.co.za.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram