fbpx
Theuns Jordaan word vereer by konsert.

Theuns Jordaan word vereer by konsert.

Die reuse Theuns Jordaan Tribute-konsert op 25 Maart 2023 bring die room van Suid-Afrika se kunstenaars vir een dag byeen op Loftus Versfeld om hulde te bring aan die ikoniese Theuns Jordaan.

Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Kurt Darren, Ray Dylan, Dozi, Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Ricus Nel, Jay du Plessis en Bok van Blerk lei die huldeblyk.

Die kunstenaars het Theuns na aan die hart gelê en sy lewenspad saam met hom gestap. Hulle gaan Theuns se liedjies laat herleef in ‘n uitnemende grootskaalse produksie wat deur gesoute vervaardiger Barry Pretorius behartig word in samewerking met Theuns se jarelange vriend Jacques du Plessis.

Du Plessis, wat vir byna vyftien jaar saam met Theuns opgetree het, sê die konsert is vir hom uiters kosbaar. “Die kunstenaars wat deel is van die produksie is baie opgewonde en die publiek se reaksie is absoluut oorweldigend.

Ons almal staan opnuut in totale verwondering en ontsag vir die invloed wat Theuns op soveel miljoene mense gehad het. Sy nalatenskap is omvangryk,” sê Du Plessis.

“Dis ‘n baie spesiale konsert, en daar gaan baie emosie wees. Ons besef watter groot verantwoordelikheid op ons rus om Theuns se nalatenskap te eer. Ons gaan nie terughou nie. Dit gaan ‘n massiewe produksie en konsert wees.

“Dit gaan iets wees wat Suid-Afrika vir ‘n baie lang tyd sal onthou, en dis ‘n eenmalige konsert.”

Du Plessis sê aanhangers kan verwag om Theuns se gewilde “partytjie-liedjies” te hoor, sowel as liedjies wat in die beginjare van sy loopbaan uit sy pen gevloei het.

“Die kunstenaars wat deel is van die produksie is diegene wat Theuns se lewenspad saam met hom gestap het en hom werklik na aan die hart gele het. Ons is al genader deur soveel ander kunstenaars wat deel wil wees van die huldeblyk, maar elkeen kan natuurlik op sy eie manier hulde bring aan Theuns en sy liedjies laat voortleef,” sê Du Plessis.

“Ons sou aanvanklik die konsert by ‘n ander venue gehou het, maar ons het gou agtergekom dit gaan te klein wees. Ons het vir Loftus genader en hulle was wonderlik. Hulle het selfs ‘n wedstryd geskuif om vir ons plek te maak. Ons kon toe kapasiteit skep vir 40 000 toeskouers, en alle aanduidings is dat die konsert gaan uitverkoop.”

Bobby van Jaarsveld, in wie se loopbaan Theuns ‘n beduidende rol gespeel het, sê dis vir hom ‘n groot eer om deel te wees van die Tribute. “Theuns was ‘n besonderse mens en vriend. Ek is baie opgewonde om na ‘n lang tyd weer op die verhoog te kan wees saam met hierdie kunstenaars en vir so ‘n besonderse geleentheid.”

Die besonderse eenmalige massa-konsert gaan op gepaste wyse die lewe en musiek van die legendariese Theuns Jordaan onthou en vier.

Die kaartjiepryse begin op R190 en kaartjie-verkope is oop by www.itickets.co.za 

KOMPETISIE

Plectrum gee 2 x Dubbelkaartjies weg na die vertoning. Kyk hoe jy kan inskryf deur ons Facebookblad te besoek.