Rita Li – Jakkalsdans

Rita Li – Jakkalsdans

Rita Li se splinternuwe enkelsnit, JAKKALSDANS, sal oud en jonk aanspoor om die litte los te maak, hare terug te gooi en ‘n jakkalsdansie te doen terwyl hulle die ernstige oomblikke in die lewe te vergeet.

JAKKALSDANS se lawwe lirieke vertel van ‘n opskop in die skuur op die plaas Uilkraal, waar Jakkals en Wolf se hoofkwartiere is. In dié prettige verhaal is Jakkals die meisie wat vir Wolf gaan soek en hom leer om te JAKKALSDANS tot die ure weg smelt – en daar is selfs ‘n bietjie kattekwaad in die ou klipkraal.

JAKKALSDANS is geskryf deur Rita Li en Richann Brüssow van die musiekduo Reën. Die liedjie is geïnspireer toe Rita Li se seuntjie na Danie Niehaus se storievertellings oor Jakkals en Wolf geluister het.

“Ons is te ernstig oor die lewe. Ek wou hierdie keer ‘n ligte, positiewe liedjie waarop mense kan dans en saamsing skryf om ons so bietjie van die swaar van die lewe te laat vergeet,” sê Rita Li.

Die sangeres glo luisteraars gaan die liedjie geniet, aangesien dit positief en lig is. “Jy gaan wil dans! Langarm, two-step of sommer net rondspring! Ek wil hê dit moet elkeen se somer-saamsing-liedjie word – in jou motor, rondom die braaivleisvuur of by ‘n troue – dié liedjie moet iemand se oë laat glinster,” sê die SAMA-benoemde kunstenaar.

Die musiekvideo vir JAKKALSDANS is by die gewilde en gelyknamige kuierplek, JAKKALSDANS, in Rustenburg geskiet. Die videoproduksie is behartig deur Eric T Graham en Tehan Buys van ETG Media terwyl Francois Smith en sy meisie, die aktrise Marista van Eeden, die rolle van die Jakkals en Wolf vertolk.

“Jakkals betrap vir Wolf waar hy baie neerslagtig oor die lewe is. Sy gee hom ‘n ietsie in vir die hartseer en wys hom die ligte kant van die lewe wanneer sy hom leer hoe om te JAKKALSDANS! Aan die einde van die aand vat hy háár vir sy JAKKALSDANS!”

Rita Li het as plaaskind in die hartjie van die Oos-Vrystaat grootgeword op ‘n kersie- en melkplaas. Sy het van driejarige ouderdom af ballet- en klavierlesse geneem en het op vierjarige ouderdom vir die eerste keer ‘n solo gesing.

“Musiek was nog altyd onlosmaaklik deel van my lewe. Vandag is ek die vrou van ‘n lieflike man – my rots – en mamma van twee woelwaterseuntjies. Ek is steeds ‘n sangeres met groot drome, ‘n sportvrou, vriendin en dogter van die Koning,” sê Rita Li.

“Daar is niks wat ek nie aanpak nie en my grootste vrees is dat die lewe verby sal wees voordat ek alles kon doen wat ek graag wou.”

Volgens Rita Li inspireer stories, verhale, lewenslesse en lewensoomblikke haar musiek en wil sy nog graag saam met kunstenaars soos Reën, Corlea, Appel en Riaan Benadé wil werk.

Elvis Blue en die Amerikaanse groep Lady A inspireer haar ook.

Sy is die afgelope 16 jaar deeltyds besig met musiek, maar die afgelope vyf jaar is sy voltyds besig om te woeker in die musiekbedryf.

“Die bedryf het my geleer vasbyt, aanhou, en om nooit op te gee nie. Om in myself te glo maar ook om myself te bly en nie soos iemand anders te wil wees nie. Om aan te hou werk en werk en werk en aan deure te klop, sonder om moedeloos te raak.”

Haar grootste hoogtepunt tot dusver was om vir ‘n South African Music Award (SAMA) benoem te word vir haar debuutalbum getiteld Roekeloos Verlief.

Sy het ook tans ‘n YouTube-reeks, Vuurwerke met Rita Li waarin sy met verskeie bekendes gesels en hul uitdaag om iets saam met haar te doen.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram

LEES MEER

Rita Li – HARTLAND

Rita Li – LUGBALLON