Simone Govender – THE ATTENTION’S REALLY KILLING ME

Simone Govender – THE ATTENTION’S REALLY KILLING ME

“Die liedjie gaan oor die invloed wat sosiale media kan hê op hoe ons oor die lewe voel en wat ons glo die regte manier is om te leef,” Simone Govender oor die betekenis agter haar vierde enkelsnit, THE ATTENTION’S REALLY KILLING ME.

Hierdie uiters persoonlike pop-rockliedjie, wat sy saam met Muse Studios se Nick Jordaan (Rubber Duc) en Hugo Ludik (ADAM) geskryf het, is geïnspireer deur haar eie negatiewe ervaring op sosiale media. “Ek was vasgevang tussen wat ek graag wou doen en wat ander my vertel het om te doen. Hoe meer tyd ek op sosiale media deurgebring het, hoe meer agtergeblewe het ek gevoel – asof daar iets fout was met my lewe,” deel sy. “Om dinge erger te maak, het ek baie negatiewe kommentaar gekry op TikTok en Instagram oor my voorkoms en musiek. Die angs wat ek ervaar het, het toe die idee vir hierdie liedjie laat posvat.”

Om THE ATTENTION’S REALLY KILLING ME op te neem was nie net ’n vorm van genesing vir dié opkomende ster nie, maar het haar ook die geleentheid gegee om te wys wie sy is as mens en musikant.  

“Alles van die liedjie, insluitend die genre, som op wie ek is. Ek kan eerlikwaar sê dat ’n stukkie van my hart in dié projek vasgevang is.”

Volgens die sangeres, spog die liedjie met ’n energieke aanslag, betekenisvolle lirieke en ’n heerlike kitaar-solo waarby baie mense sal aanklank vind. 

Dit volg in die voetspore van haar 2021-vrystelling, Need To Be Yours, wat goed ontvang is en op die treffersparades van verskeie radiostasies verskyn het.

Simone is in Durban gebore, maar het as kind reeds Johannesburg toe getrek. Sy was vyf toe sy met klavierlesse begin het en het begin kitaar speel op veertien. Dit was op hierdie stadium wat sy besef het dat sy musiek wil maak vir ’n lewe.  

Na skool het sy sielkunde studeer en haar studies in 2017 voltooi. In dieselfde jaar, het sy voltyds met musiek begin. Sedertdien het sy al saam met groot name opgetree soos Jesse Clegg, GoodLuck, Rubber Duc, Bad Peter, Majozi, Desmond and the Tutus, en vele meer. Sy was ook deel van feeste soos Splashy Fen – wat volgens haar ’n loopbaanhoogtepunt is – en Afriski, asook by verskeie groot plekke regoor die land.

Die kunstenaar fokus tans voltyds op haar musiek en is besig om materiaal te skep vir haar debuut-album. Noudat die beperkings gelig is, wil sy ook graag optredes buite Gauteng begin doen.

THE ATTENTION’S REALLY KILLING ME is ’n indrukwekkende liedjie, met ’n boodskap wat gehoor moet word.  

“Op die ou einde van die dag, wil ons almal net kans hê om asem te haal. Ons moet onsself herinner dat ons waarde nie gemeet word aan die nuutste tendense of ander se kommentaar op sosiale media nie,” sluit Simone af.  

Die enkelsnit is nou beskikbaar op alle digitale platforms.

Kry dit hier: https://songwhip.com/simone-govender/the-attentions-really-killing-me

SOSIALE MEDIA

Facebook, Twitter, Instagram, YouTube