Mario Lategan – VIR EWIG EN ALTYD

Mario Lategan – VIR EWIG EN ALTYD

Om saam met iemand oud en grys te word is nie vir almal beskore nie. As jy dus gelukkig genoeg is om die een te ontmoet saam met wie jy die wintermaande van jou lewe kan binnegaan, moet dit met ’n liedjie gevier word.  

En dit is presies wat die bekende Radio Rosestad-omroeper Mario Lategan met sy nuwe enkelsnit, VIR EWIG EN ALTYD, doen.

Arno de Wet, ’n woordtowenaar, het die lirieke neergepen en aangesien hy en Mario goed bevriend is, is die snit ook klingelperfek vir Mario se stem wat so tussen ’n bas en ’n tenoor rond dans.

VIR EWIG EN ALTYD is ’n volwasse kontemporêre liefdessnit, maar dit beweeg weg van die stroperigheid waarmee sommige liriekskrywers met die liefde omgaan. Dié snit beskryf die liefde as meer as net fisiese aangetrokkenheid.

 “Dit is liefde wat verby die verganglike uiterlike kyk. Dit is liefde waar siele mekaar vind en mekaar vir ewig en altyd sal dra en ondersteun,” vertel Mario.  

Dit word ook in die koorgedeelte van die liedjie ge-eggo: “… vir ewig en altyd het ek my hart met jou gedeel…”

Die snit neem jou op ’n liefdesreis; van die eerste skoenlappergevoel-verliefdheid tot dáárdie oomblikke wanneer ’n klein gebaar soos om “hande vas te hou” net ’n teer herinnering op die liefdespad word.

VIR EWIG EN ALTYD teer ook nie op die cliché nie. Mario besef ook baie goed dat in ’n wêreld van sosialemediawebwerwe en afspraaktoepassings liefde soms net vir ’n oomblik kan hou – al dryf passie ’n paartjie gewoonlik om daardie onvergeetlike woorde “vir ewig en altyd” te uiter. Die vir ewig en altyd duur dalk net etlike weke voordat dit ook net in die niet verdwyn.

VIR EWIG EN ALTYD is Mario se tweede enkelsnit en volg in die voetspore van sy eerste enkelsnit Sagte Val wat verlede jaar April uigereik is. Met dié snit het Mario ook sy amptelike toetrede tot die Afrikaanse musiek-en-liriekbeweging gemaak. Die snit is baie goed deur plaaslike radiostasies ontvang en Mario is ook geloof vir die eerlikheid waarmee hy die lirieke weergee.

Mario het bekendheid verwerf vir die pantoniemes waarin hy sy verskyning gemaak het. Hy is een van Suid-Afrika se gerekende klassieke sangers en was doodbang om ligter liedjies te sing. Maar omdat hy so ’n veelsydige stem het, kon hy maklik van die groep Il Quattro, waarvan hy deel was, se Regresa a Mí  oorskakel na ’n ligter liedjie soos VIR EWIG EN ALTYD.

Mario is al die afgelope paar jaar die stem agter die Klassieke Keur-musiekprogram wat op Sondae op Radio Rosestad uitgesaai word. Die program is ’n getuigskrif van sy opleiding en deeglike kennis van klassieke musiek.

VIR EWIG EN ALTYD neem ’n mens op ’n emosionele reis en ons hoop nie ons moet nog sewentien maande wag voordat hy nog ’n snit gaan uitreik nie. Mario het ’n groot stem en nog  ’n groter persoonlikheid en sy snitte is ’n waardevolle toevoeging tot die Afrikaanse musiekbedryf.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram