fbpx
“Sagte val” styg hoog vir Mario Lategan

“Sagte val” styg hoog vir Mario Lategan

Die bekende Radio Rosestad-omroeper Mario Lategan het met die bekroonde jeugskrywer Fanie Viljoen stem-en-liriekkragte saamgesnoer. Die resultaat is ‘n kaberetagtige luisterliedjie, SAGTE VAL, wat so sag op die oor is soos ‘n donsige gansveerkussing. Dit is Mario, ‘n boorling van Bloemfontein, se heel eerste enkelsnit en hiermee betree hy ‘n nuwe musiekera in Afrikaans. Dié van ‘n grendeltydperk-musiek-en-liriekbeweging.

Coenie de Villiers, wat een van die vaders van die musiek-en-liriekbeweging in die jare tagtigs was, is ook een van sy musiekrolmodelle: “Coenie kan met woorde toor en elke sin is ‘n meesterstuk. Ek hou van dinge in die lewe wat sin en betekenis het en dit moet ook ‘n storie vertel. Rou, eg en opreg.”

Oor sy samewerking met Fanie sê hy: “Ek het so ‘n paar jaar gelede ‘n kursus saam met Fanie bygewoon en hom sommer net gevra of hy nie dalk ‘n liedjie vir my het nie. Hy het toe inderdaad lirieke gehad, maar hy kon dit nie toonset nie. Ek het die liedjie vir een van my vriende Arno de Wet gegee om te toonset. Maar my verwagtinge was nie vreeslik hoog nie. Nadat Arno se musikale genialiteit op die lirieke losgelaat is, het my mond oopgehang.”

Hoewel Mario met dié enkelsnit sy debuut op radiospeellyste maak, is hy nie ‘n groentjie in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf nie. Hy het sy stem in verskeie musiekblyspele waaronder Beauty and the Beast en Les Miserables. Asook in pantoniemes soos Cinders finds a Glee Fella, Hansel hunt Gretle en Snow geslyp. Hy was ook deel van die groep Il Quattro wat vir ‘n paar maande op die eiland Mallorca in Spanje gesing het.

“Ek was eers ‘n bietjie skepties om dit self te sing, want ek sing meer in die klassieke genre, maar Arno het aangedring dat ék dit moet sing; hy het dit vir my stem getoonset. “Ek het gewag tot die tyd reg is voor ek die liedjie vrygestel het en die tyd het nou
aangebreek,” vertel hy. Mario spot lekker met sy vrees om tot die ligter musiekgenre toe te tree, maar Sagte Val getuig van die veelsydigheid van sy stem; hy is so tussen ‘n tenoor en ‘n bariton.

“Dit maak die lewe vir my hel,” lag hy. “Die meeste van die mooiste areas is vir die eerste tenore geskryf. Glo my maar dat dit nie ‘n grap is om by daardie note by te kom nie. Ek kan darem met gemak die A-Mol, as my stem goed opgewarm is, bykom.”
Hy glo ook dat ‘n Suid-Afrikaanse kunstenaar homself nie net op een genre kan toespits nie. “Die mark is net te klein daarvoor, maar my hart en my passie lê op die verhoog en die teater.”

SAGTE VAL is nie ‘n tipiese konvensionele Afrikaanse liedjie nie. Dit neem ‘n mens op ‘n emosionele reis met Mario se stem wat met gemak beweeg tussen ‘n vol stem en ‘n falsetto. Mario beskryf SAGTE VAL as ‘n liefdeslied wat op verskeie maniere geïnterpreteer kan word. “Sommige mense glo dit handel oor die liefde; ander interpreteer dit weer as iemand se liefde vir musiek wat ook ‘n “sagte val” kan wees.”

Mario is nie net ‘n klassieke musiekkenner nie (sy musiekprogram Klassieke Keur is ‘n getuigskrif vir sy opleiding en deeglike kennis). Maar ook ‘n bedrewe sakeman wat onder meer ‘n boutique-hotel en privaatskool bestuur. Hy het ook onlangs Phoenix Artist Management and Production House gestig. Verder het hy van die Rosestad se belowendste talent onder sy musiekvlerk.
Mario se stem is groot en ‘n mens hoop dat daar nog baie liedere uit sy mond gaan kom.