fbpx
Jan-Mattys – SONOPKOMS

Jan-Mattys – SONOPKOMS

Die sanger en liedjieskrywer Jan-Mattys se splinternuwe enkelsnit getiteld SONOPKOMS is pas uitgereik.

Jan-Mattys het as solokunstenaar en as deel van die mansgroep Tussen Sterre reeds ‘n paar spore in die Afrikaanse musiekbedryf getrap.

Hy het vanjaar die top-26 van die sangkompetisie Die Kontrak gehaal en het in 2018 saam met Tussen Sterre ’n Ghoema-musiektoekenning as die publiek se gunsteling kunstenaar ingeoes.

Die nuwe pop-snit SONOPKOMS is uit Jan-Mattys se eie pen.

“Ek dink dit is ’n liedjie waarby almal kan aanklank vind, maak nie saak waar jy in jou lewe is nie. Ons almal is konstant besig om ’n nuwe reis aan te pak en die lewe is heeltyd besig om ons te verander,” sê hy.

SONOPKOMS handel oor my eie reis en ondervinding met ’n nuwe verhouding. Die liedjie is naby aan my hart waar ek tans in ’n nuwe verhouding is, maar ook ’n nuwe lewensreis aanpak vol nuwe avonture.

Volgens Jan-Mattys wil hy graag hê sy musiek moet ’n passie vir die lewe aanwakker en sodoende elkeen inspireer om hulle eie reise met ywer aan te pak.

“Ek wil mense aanmoedig om nie meer so verstrengel te wees in ’n onvervulde agt-tot-vyf-leefstyl nie. Ek wil emosies in woorde omsit wat meer as net myself weerspieël. Sodra ek ‘n liedjie sing en dit gee my hoendervleis, weet ek dit gaan werk.”

Hy beplan om binnekort sy eerste solo-kortalbum uit te reik. “Ek wil my eie identiteit skep en nie meer net ‘die ou van Tussen Sterre’ wees nie,” sê Jan-Mattys.

Jan-Mattys koester al van die jong ouderdom van ses jaar oud ’n spesiale band met musiek en met die ondersteuning van sy familie het hy ’n professionele loopbaan daarvan gemaak.

Nie net skuif hy agter die mikrofoon in as solokunstenaar nie, maar is hy ook voorsanger van die groepe Ons Vir Jou, Matt Martin, Tussen Sterre en LET GO. Hy is ook die eienaar van die JM Musiekakademie in Gauteng.

“My passie vir die musiekbedryf het nie oor die jare gekwyn nie en my fokus is om nuwe musiek te skep terwyl ek ’n ander talentvolle persoon leer hoe om die bedryf te betree.”

Jan-Mattys is op 16-jarige ouderdom genooi om in Los Angeles, VSA, op te tree voor groot talentkenners. Hy moes egter gedurende dié tyd terugkeer na Suid-Afrika weens sy ouers se swak gesondheid.

In 2011 het hy ‘n Graad 6 Vokale kwalifikasie van Trinity College London in Gevorderde Vlak Gegradeerde Eksamen in Musiekuitvoering verwerf.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy voortgegaan met opleiding en daarna besluit om die musiekakademie te open om die geleentheid te bied aan ander jong kunstenaars opgelei te word om hul eie potensiaal te ontwikkel en drome te verwesenlik.

Hy het in 2016 by die mansgroep Tussen Sterre aangesluit. Die groep se eerste volledige album is getiteld Kosmies, met treffers soos Jonk in Afrikaans, Vir Ewig ’n Goeie tyd en Lappop.

Jan-Mattys woeker nie net as sanger in venues regoor Gauteng nie, maar is hy ook besig met ‘n opleidingskursus om ’n persoonlike fiksheidinstrukteur te wees en werk hard aan die skryf en vervaardiging van sy kortalbum.

Hy word deur plaaslike kunstenaars soos Francois van Coke, Joshua na die Reën, Elvis Blue, Karen Zoid, Spoegwolf en Die Heuwels Fantasties geïnspireer.

Die Afrikaanse musiekbedryf het hom reeds ’n paar waardevolle lesse geleer, sê hy.

“Wanneer die lewe ’n deur toeklap, maak die deur weer oop. Dit is hoe deure werk! Daar is nie een oomblik wat jy kan ophou werk in hierdie bedryf nie. Hoe meer jy dink oor iets, hoe meer verloor jy.”

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram