Jaid River – DUISEND JAAR VAN NOU

Jaid River – DUISEND JAAR VAN NOU

Die meeste musikante wil graag ’n blywende impak maak op die wêreld met hulle musiek. ’n Behoeftes om iets betekenisvol na te laat, was die inspirasie agter Jaid River se debuut-enkelsnit, DUISEND JAAR VAN NOU.

Hierdie volwasse kontemporêre snit, wat deur die sangeres self geskryf en deur Gideon Botes vervaardig is, is oorspronklik geskep nadat Jaid op die ouderdom van agtien stad toe getrek het. “Ek het die liedjie ’n paar maande geskryf nadat ek van George na Pretoria verhuis het. Skielik was daar ’n hele nuwe wêreId rondom my om te ontdek en ek wou dit op die verhoog vasvang,” sê sy. “Op agtien wou ek graag ’n verskil maak in die wêreld.”

Oor die afgelope paar jaar, het dié liedjie egter vir Jaid nog meer betekenis gekry. “Dit het begin met die idee dat ek graag iets wil nalaat – wat kan ek doen wat mense sal onthou – maar sedertdien het ek besef dat om jou merk op die wêreld te maak meer gaan oor wie jy is as wat jy doen. Dit gaan daaroor om vrede te maak met jouself en te weet dat jy genoeg is.”

Die enkelsnit, sê sy, gaan daaroor om jouself alleen te bevind in ’n vreemde stad en om te probeer uitpluis wie jy is en wie jy wil wees. Verder gaan dit daaroor om die reis te geniet en die mense te waardeer wat jy op jou pad ontmoet.

Alhoewel Jaid al vir ’n hele paar jaar optree, is DUISEND JAAR VAN NOU haar eerste oorspronklike vrystelling en ook die eerste snit vanaf haar debuut-album wat binne die volgende paar maande uitgereik word. 

’n Pragtige musiekvideo, wat spesiaal verfilm is by Big Red Barn in Gauteng met die hulp van GP van der Merwe (videograaf), Xander van den Berg (fotograaf) en Megan du Preez (stilis), om die snit te komplementeer, is ook nou beskikbaar.

“Omdat die lirieke baie betekenisvol is, wou ek die video eenvoudig hou,” sê Jaid oor die konsep daaragter. “Die woud in die video verteenwoordig die onbekende. Ons begin buite die woud waar ek net daarna kyk en eintlik te bang is om te naby te gaan en dit wat bekend en oop is te verlaat. Soos wat die liedjie bou, ontwikkel die video verder tot waar ek op die ou end die woud in hardloop en besluit om ’n kans te vat en die beste daarvan te maak.”  

Jaid, wie se regte naam Jeanlie Minnie is, is in Potchefstroom gebore en het in George grootgeword. Sy het drie jonger susters, wat ook die inspirasie is agter haar verhoognaam – Jaid is ’n afkorting van die beginletters van hulle name, terwyl River konstante vloei verteenwoordig. “Vir my verteenwoordig my verhoognaam eenheid. Ek sou nooit hierdie ongelooflike reis kon onderneem sonder my familie se ondersteuning nie. Dit herinner my ook daaraan dat dinge altyd besig is om te verander en dat dit, tesame met die mense wat ons ontmoet, help om ons te vorm in die mense wat ons is. Dit word perfek vasgevang in die gesegde wat sê dat jy nie twee keer in dieselfde water kan loop nie.”

Die jong sanger en liedjieskrywer het in 2016 (op die ouderdom van sewentien) by restaurante en markte begin optree. In dieselfde jaar, het sy die geleentheid gekry om by die Karoo Stilfees op te tree saam met kunstenaars soos Joshua Na Die Reën, Lizandra Winter, Len Muller, en Jaco Van Der Merwe, en blywende vriendskappe is gevorm.

Voordat sy haar diploma in musiek verwerf het aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie in 2018, het sy meer oor die musiekbedryf geleer onder leiding van Lizandra Winter en Joshua Na Die Reën. “Ek sal altyd dankbaar wees vir die geleentheid wat hulle my gegee het. Nie net het hulle ’n invloed gehad op my musiekstyl nie, maar ook op die manier waarop ek die bedryf benader. Daar is baie opinies in die bedryf oor wie jy moet wees, en ek dank my sterre dat hulle my mentors is.”

Nadat sy haar diploma in 2021 verwerf het, het Jaid in alle erns op haar musiekloopbaan begin fokus.

Sy geniet dit baie om saam met ander kunstenaars te werk en was ’n finalis in Jannie du Toit se Nuwe Baadjie-kompetisie vroeër vanjaar. “Ek was verstom oor die talentvolle mense wat aan die werkswinkel deelgeneem het, en baie van hulle is nou ook my vriende. Ek sien uit daarna om weer saam met hulle te werk in die toekoms.”

Nadat die vrystelling van DUISEND JAAR VAN NOU en haar debuut-album, wil dié 23-jarige nog saam met baie musikante werk, waaronder Deon Meiring, Almero, Joshua Na Die Reën, Thys Nortje, Jaco Smit, Leon Gropp, Liani Reynolds, en Jaco Van Der Merwe (Bittereinder), asook meer optredes doen en deur die land toer.

Lauren McAfee het gesê: “Geluk lê nie in materiële dinge nie, maar in wie jy is.” Jaid se debuut-enkelsnit vang hierdie gedagte perfek was en met haar betekenisvolle musiek gaan sy nog diep spore laat in die plaaslike musiekbedryf.

Die liedjie is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Laai dit hier af:

https://distrokid.com/hyperfollow/jaidriver/duisend-jaar-van-nou

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram, YouTube

Webwerf: www.jaidriver.com