Simoné Roets keer terug na S.A.

Simoné Roets keer terug na S.A.

Daar is baie goeie nuus vir plaaslike musiekliefhebbers, want die gewilde Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer – Simoné Roets – het besluit om na vyf jaar in Australië permanent terug te keer na haar geboorteland.

Simoné saam met haar man Estiaan. (Foto verskaf)

“Ons sal ons avontuur in Australië vir niks verruil nie, maar het nog altyd gesê dat ons eendag wil terugkom – ons harte is vir Suid-Afrika en sy mense. Nou voel soos die regte tyd om hier te wees en dit maak sin om my musiek te deel met die mense vir wie ek dit skryf,” verduidelik dié begaafde musikant oor hulle groot besluit.

“Die plan was om terug te keer Brisbane toe na ek die album opgeneem het, maar soms verander die plan, en hoekom nie –  dit hou die lewe interessant!”

Simoné het in 2021 opslae gemaak met die vrystelling van haar eerste Afrikaanse enkelsnit en musiekvideo, Dans in die Donker, wat onmiddellik die belangstelling van Afrikaanse luisteraars, media en radiostasies geprikkel het.

Kyk gerus hier na haar televisieonderhoude:

ONGEREP, ’n kontemporêre duet saam met Joshua na die Reën, het kort daarna gevolg en haar posisie in die Afrikaanse musiekbedryf nog verder verstewig.

Dié sielvolle popsnit, uit haar eie pen, gaan oor hoe kwesbaar die mens regtig is, en is vervaardig deur Jattie de Beer van Artistry Productions.

Buiten daarvoor om weer haar voete te vind op plaaslike bodem, werk sy en Jattie hard daaraan om haar debuut-album te finaliseer wat later vanjaar beskikbaar sal wees.

Simoné het in Nelspruit groot geword en het eers op universiteit haar passie vir musiek ontdek. Sedertdien het sy ’n kortspeelplaat en verskeie ander Engelse liedjies uitgereik en is was sy ook baie betrokke by die Hillsong City Campus in Brisbane.

Sy is baie opgewonde daaroor om terug te wees in Suid-Afrika en om haar musiek met Afrikaanse bewonderaars te deel. “Ek glo dis belangrik om ten volle te leef waar ook al jy jouself in die wêreld bevind – om in te duik in elke aspek van lewe en die gemeenskap om jou – selfs al is dit ongemaklik. Ek twyfel of ek Afrikaanse musiek sou skryf en vrystel as dit nie vir ons Brisbane-seisoen was nie.”  sluit sy af.

ONGEREP is nou beskikbaar op alle digitale platforms. 

Laai dit hier af: https://linktr.ee/simoneroets

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram, YouTube