fbpx
STEM SAAM – VIA (kanaal 147), Vrydae 20:00

STEM SAAM – VIA (kanaal 147), Vrydae 20:00

A Capella is wanneer mense sing en hul stembande as enigste instrument gebruik om musiek mee te maak. Dit sit ook gewoonlik nie in enige ou se broek om dit te kan doen nie. Bekendheid en bemarking gaan jou nêrens bring nie, want hier tel net een ding; ware talent!

Die Amimato a Capella sangkompetisie word jaarliks aangebied waar skole van reg oor die land kan deelneem. Nou vir die eerste keer word hierdie kompetisie professioneel opgeneem en verpak vir TV sodat die hele land kan sien wat agter die skerms gebeur om dié kuns, klank en perfekte harmonieë tussen stembande en kinders te meng tot ʼn klank wat asems wegslaan.

In STEM SAAM het die produksiehuis, CoolerBox Brothers met die stigter van Animato A Capella kompetisie, Lizelle van Staden (stem)bande saamgesnoer en is tans besig om laasjaar se top drie wen-skole, agter die skerms te skiet en dit weekliks op VIA uit te saai.

Die regisseur is George van Rooyen en die vervaardigers is Marno Koen en Michael van Zyl. In elke episode volg hul die drie skole van waar hul oudisies hou, repeteer, optredes doen en als wat nog daarmee saamgaan om vir die hele land te wys hoe ware talent lyk.

Die drie skole wat laasjaar in die Top 3 posisies geëindig het, word gebruik in die STEM SAAM reeks en hulle is Afrikaanse Hoër Meisieskool, Pretoria met Steffie Le Roux as afrigter en Anja Woolls as organiseerder.

Dan is daar ook Hoërskool Linden, Johannesburg met afrigters, Marius van Staden en Abigail Vos, wat georganiseer word deur Da Nielle Jordaan.

Die derde skool wat gebruik word in die reeks, is Hoërskool Generaal Hertzog, Witbank. Die afrigter daar is Hester Kritzinger en een van die skoolmeisies, Lee-Ann – georganiseerd deur Alula van Wyk.

Die kyker kan alreeds inskakel vir ‘n blik wat agter die skerms gebeur waar hierdie drie skole nou in ‘n TV-reeks teen mekaar gaan meeding in 13 episodes.

Die publiek kan ook die Semi- en Finale opnames bywoon op 4 en 5 Oktober 2019 wat opgeneem gaan word by die Woord en Lewe Kerk by h/v Trichardstraat en Kingficherlaan, Sunward Park, Boksburg. Kaartjies is slegs R60 en beskikbaar by www.itickets.co.za.

A Capella musiek is hier om te bly, veral as jy kyk na internasionale platforms waar a Capella die in-ding is.

Dink maar aan Glee, Pitch Perfect, Pentatonix, ens. CoolerBox Brothers het invloede van reg oor die wêreld saamgesit, talent op eie bodem gebruik en só, hul eie stempel op ‘n genre gesit wat nooit sal uitsterf nie.

Kyk STEM SAAM, elke Vrydagaand om 20:00 op VIA (Kanaal 147).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui