fbpx
SWAARTEKRAG – Danileigh ft. JP White

SWAARTEKRAG – Danileigh ft. JP White

Soms word van die land se mees talentvolle kunstenaars as voorsangers by hulle onderskeie kerke ingespan en nie-gemeentelede kry nie die voorreg om aan dié nuwe sterre in die Afrikaanse musiekruim blootgestel te word nie

Danileigh is een van dáárdie sangeresse wat met haar hemelse stem selfs die engele laat huil, maar wat hoofsaaklik as aanbiddingsleier in haar kerk opgetree het. Nou het sy egter besluit om ook haar stem met die publiek te deel en die resultaat is SWAARTEKRAG – ‘n volwasse kontemporêre snit wat goed deur plaaslike radiostasies ontvang is.

Dié liedjie wat ook uit haar pen verskyn het, is ligweg op Esegiël 47 gegrond, maar dit is nie ’n gospelliedjie nie.  “Die liedjie handel oor die liefde,” vertel sy.  “Toe ek SWAARTEKRAG geskryf het, het die verhaal in Esegiël 47 in my kop gedraai. Ek wou ’n liedjie skryf waarin die verhaal se boodskap op ’n ander manier – as ’n liefdesboodskap – oorgedra word. Die liedjie is vir almal geskryf en nie net vir kerkgangers nie.”

“Ek het vir myself gevra wat die liefde vir my beteken en ek kon nie anders as om die liefde te vergelyk met my verhouding met die Here nie. Dit is ook die boodskap wat ek aan die wêreld wil gee: Dat liefde ’n onweerstaanbare krag is.”

“En ja, knipoog Danileigh, sy is in die stadium smoorverlief, en daarom kan sy ook die lirieke met soveel hartstog en emosie sing.

Danileigh het haar klokhelderstem met die van die sanger JP White gedeel. “Ek het ’n manlike stem nodig gehad om saam met my te sing en JP se donkerder bas en my stem was in perfekte harmonie met mekaar.  Ongelukkig het ek hom nog nooit ontmoet nie. Ons het ons onderskeie gedeeltes by verskillende ateljees opgeneem. Ek dink ons sal baie goed oor die wegkom.”

Danileigh sê spottenderwys dat sy nie haar naam by die van die Amerikaanse-rapper Danileigh (tot die spelling is dieselfde) geleen het nie. “Dit is my regte naam en ek het my geboortenaam te danke aan die kreatiwiteit van my ouers. Ek het ’n kombinasie van hulle name, Danny en Linke, gekry.”

Die Centurionse sangeres vertel dat sy nie die geleentheid gehad het om na skool verder te studeer nie. “Ek wou nog altyd ’n sangeres en liedjieskrywer geword het, maar my ouers het nie die finansies gehad om my in my musiekloopbaan te ondersteun nie. Ek het myself bemagtig deur sanglesse te neem en ek het ook die klavier bemeester.”

Haar musiekinspirasie is die sangeresse Bernice West en Lauren Daigle. “Hulle lirieke inspireer my, want hulle skryf oor dinge wat daagliks met ons kan gebeur. Die lirieke gee my hoop – en dit is ook wat ek met my musiek en lirieke wil doen – hoop bring.”

SWAARTEKRAG gaan hoop aan baie mense bring. Danileigh is ’n nuwe stem in die musiekbedryf en ons hoop daar gaan nog baie klanke uit haar mond getower word.

SOSIALE MEDIA

DANILEIGH

Instagram

JP WHITE

Facebook, Instagram