fbpx
Tailor & Tramp, laat musiekkringe gons met debuut-enkelsnit, MIDNIGHT TEMPTATION

Tailor & Tramp, laat musiekkringe gons met debuut-enkelsnit, MIDNIGHT TEMPTATION

Hulle is ‘n groep van vier musikante wat die kuns vervolmaak het om gehore te bekoor met hulle unieke Country-Rockklank. So nou en dan ruk Werner “Weerlig” Kruger (voorsanger) sy hemp af op die verhoog en dan smelt elke meisie in die gehoor se hart! 

Dit is die nuwe witwarm groep, Tailor & Tramp. Met die vrystelling van hulle debuut-enkelsnit, MIDNIGHT TEMPTATION, gaan dié Pretoriaanse musiekgroep verseker nog meer harte laat smelt en luisteraars bereik met hulle storievertellerslirieke en voetstamplekker melodieë. 

MIDNIGHT TEMPTATION is geskryf deur Werner en hoofkitaarspeler, Fish Archer. Dit gaan oor iemand wat in ’n slegte verhouding is en in die verhouding bly ten spyte van die pyn wat dit veroorsaak.

“Almal van ons ken iemand of was dalk al self in ’n verhouding wat sleg is en langer aanhou as wat dit moet,” verduidelik Werner, oor die boodskap agter hulle eerste vrystelling.

Omdat die enkelsnit ’n moderne energieke wysie en universele boodskap het, is dit ‘n regte oorkruiper. Dit is beslis iets waarby oud en jonk sal aanklank vind.

’n Musiekvideo hiervan sal ook eersdaags op die kassie beskikbaar wees. Maar hieroor wil hulle nog nie te veel verklap nie. “Ons werk hard, het al baie vertonings gedoen en wil daarom graag die gevoel van die groep aan kykers deurgee met ’n video waarin ons lewendig optree,” deel Werner. “Dit gaan beslis besonders wees”.

Tailor & Tramp is in 2018 gestig en bestaan uit Werner Kruger, Fish Archer, Matthew Gerli en Reinhardt von Solms. Die naam is gebaseer op Werner se eie interpretasie van Yin en Yang; die perfekte balans tussen goed en kwaad.

Hierdie projek het hoofsaaklik begin nadat hy en Fish mekaar deur gemeenskaplike vriende ontmoet en vir die pret begin saamspeel het. Ons het toe ons eerste vertoning self gereël as ‘Uit Die Bloute’, want dit is hoe die band begin het. ‘Uit Die Bloute’ het ’n mengsel van bekende treffers en oorspronklike liedjies gedoen. Ek het toe besluit dat ek eintlik graag Country-musiek wil skryf en iets nuuts wou probeer en só het Tailor & Tramp ontstaan,” vertel hy.

Sedertdien het hulle van krag-tot-krag gegaan en die verhoog gedeel met verskeie groot name, waaronder Jo Black, Snotkop, Franja Du Plessis, Jay, Pieter Koen en vele meer. Hulle sou ook ’n vertoning gedoen het by Sun Arena saam met Biggy en Early B. Maar dit is ongelukkig as gevolg van Covid afgestel.

Dié viermanskap het reeds sewe oorspronklike snitte gereed en wil graag so gou as moontlik hulle eerste album uitreik. Hulle beplan ook om in die nabye toekoms in Nashville te gaan toer en hulle musiek aan die internasionale mark bekend te stel.

DIE MANNE AGTER DIE MUSIEK

Werner “Weerlig” Kruger, hoofsanger, liedjieskrywer en kitaarspelerhet in die Oos-Rand grootgeword en het homself op sestien geleer kitaarspeel. Hierdie vyf-en-dertigjarige EPCM-projekbestuurder was nog altyd versot op musiek. Hy glo dat musikante soos Koos Kombuis, Chris Stapleton en Kip Moore die grootste invloed gehad het op sy eie styl.

Fish Archer is al vir twintig jaar in die musiekbedryf en het begin kitaarspeel op die ouderdom van dertien. Die groep se hoofkitaarspeler het in Pretoria grootgeword en is lief vir mense. Hy meen dat sy passie vir musiek reeds op laerskool ontstaan het, nadat hy groepe soos Blink 182, The Rolling Stones en Green Day ontdek het.

Matthew Gerli is Tailor & Tramp se baskitaarspeler. Hierdie agt-en-twintigjarige Italianer beskryf homself as ’n roetine-mens wat mal is oor, klassieke-, alternatiewe-, blues- en jazz-musiek. Na skool het hy Musiekwetenskap by UNISA studeer en vier vanjaar sy twaalfde jaar in die musiekbedryf.

Charles Mingus, Chris Wolstenholme, Pino Palladino en Tim Commerford is almal musikante wat ’n invloed gehad het op sy eie styl. Wanneer hy nie musiek maak nie, is hy ’n korttermynversekeringsmakelaar.

Dromspeler, Reinhardt von Solms, woon nog sy hele lewe lank in Pretoria. Hy is agt-en-dertig-jaar oud en is al vir so vyftien jaar in die musiekbedryf doenig. Wanneer hy nie op die verhoog is nie, werk hy as ’n argitek. Hy geniet dit om na ’n wye verskeidenheid musiek te luister, wat wissel van Punk en Rock tot Dubstep.

Tailor & Tramp is ’n veelsydige Country-Rockgroep met ’n unieke styl en klank. Met hulle betekenisvolle lirieke en energieke verhoogpersoonlikheid sal hulle musiek beslis aanklank vind by gehore van alle ouderdomme.

Laai die enkelsnit hier af: Itunes, Spotify

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook, Instagram